Harris loop sy rieme styf in Kalifornië

Lloyd Harris. Foto: Joe Klamar/AFP/Argieffoto.

Lloyd Harris se Indian Wells-veldtog is verby nadat Matteo Berrettini hom met 6-4 en 7-5 in die derde ronde van die gewilde ATP 1 000-toernooi in Kalifornië uitgeskakel het.

Harris het in die tweede stel ’n voorsprong van 5‑2 geniet, maar die Italianer het teruggeveg om die kragmeting binne twee uur te beklink.

“Dit beteken vir my baie om na die vierde ronde deur te dring. Ek hou daarvan om in Kalifornië te speel, maar om een of ander rede kon ek hier nog nooit goeie tennis speel nie,” het Berrettini gesê.

Volgens die Italianer is Harris ’n taai teenstander; die Suid-Afrikaner sal egter teleurgesteld wees dat hy sy voorsprong in die tweede stel weggesmyt het.

Ná sy heldedade in 2021 – waar hy onder meer met Rafael Nadal, Stan Wawrinka en Dominic Thiem afgereken het – het Harris ’n sukkelbegin tot 2022.

Hy het vyf wedstryde op ’n streep verloor, maar hy kon met Argentinië se Facundo Bagnis in die tweede ronde van die Indian Wells-toernooi klaargespeel het.

Harris is tans 32ste op die ATP-wêreldranglys.

Ander uitslae:

Taylor Frits klop Jaume Munar met 6-4, 2-6 en 7-6.

Alex de Minaur klop Tommy Paul met 7-6 en 6-4.

Hubert Hurkacz klop Steve Johnson met 7-6 en 6-3.

John Isner klop Diego Schwartzman met 7-5 en 6-3.

Simona Halep klop Sorana Cirstea met 6-1 en 6-4.

Iga Swiatek klop Angelique Kerber met 4-6, 6-2 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.