Harris se Thiem-sege was g’n vloekskoot

Lloyd Harris. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Lloyd Harris het gisteraand vir ’n opskudding gesorg toe hy die wêreld se no. 4-speler, Dominic Thiem, in die Dubaise ATP-toernooi geklop het.

Die 24-jarige Harris het die wedstryd met 6-3 en 6-4 gewen en hy het die wind heeltemal uit die Oostenryker se seile gehaal.

Om ’n uitdrukking te gebruik waarvoor die jonges so lief is; ’n mens kon duidelik in die tweede stel sien dat Thiem “oor” die wedstryd was.

“Ek is super tevrede met my spel; Dominic is verreweg die beste speler wat ek nog gewen het. Ek sien op na iemand soos hy en dit maak vandag net nog meer spesiaal,” het Harris gesê.

Maar hoewel dit sy eerste oorwinning is teen iemand wat onder die voorste vyf spelers ter wêreld tel, was dit hoegenaamd nie ’n vloekskoot nie.

Die Suid-Afrikaner het al vantevore ’n stel of twee teen topgekeurde spelers – onder wie Roger Federer – gewen, maar hy kon nooit die uitklophou plant nie.

Dit lyk egter asof dinge begin verander het toe hy met Stan Wawrinka in Katar afgereken het. Twee agtereenvolgende seges teen die wêreld se bestes is beslis nie te versmaai nie.

“Die feit dat ek deesdae goeie tennis – wedstryd ná wedstryd – kan speel, sorg beslis vir baie selfvertroue. ”

Veral Harris se afslane het soos ’n bom teen Thiem gewerk en die Oostenryker het ná die tyd erken dat hy omtrent moes bontstaan.

“Ek het gesukkel om sy afslane terug te slaan en dit het tot baie ongedwonge foute gelei. Ek het ’n paar dae vantevore gesê dat indien ek nie op alle silinders vuur nie, ek teen van die spelers gaan sukkel,” het Thiem gesê.

En sy profesie het teen Harris ’n werklikheid geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.