Helga en Kyla slaan strandtennis-kishoue

Helga Jeske en Kyla Yelverton in aksie. Foto: Reg Caldecott.

Wat is beter as ’n roomys langs die see? Strandtennis, natuurlik!

Dit is een van die sportsoorte wat die vinnigste in Suid-Afrika groei en die Tukkie-duo Helga Jeske en Kyla Yelverton is besig om amok in die nasionale strandtennislandskap te maak. Dié twee het nie net die Gauteng-kampioenskap gewen het nie, maar ook die SA Strandtennistoernooi op Badplaas.

Boonop is dié dubbelspaar gekies om die land by die ITF Strandtennis-wêreldkampioenskap in Moskou te verteenwoordig. Dan wag daar ’n verdere toernooi in Rusland wat hulle as littelosmaker vir die wêreldtoernooi kan gebruik.

“Die enigste manier hoe ons beter gaan word, is om teen sterk internasionale spelers mee te ding,” sê Jeske.

“Ek het vroeër vanjaar aan vier toernooie in Brasilië deelgeneem en het ervaring van onskatbare waarde opgedoen. Die standaard van die spel oorsee is aansienlik hoër as dit waaraan ons hier in Suid-Afrika gewoond is.”

Die twee was eers kranige tennisspelers voordat hulle die wêreld van strandtennis betree het.

“Om strandtennis te speel is eintlik baie eenvoudig, veral as jy ’n tennisagtergrond het. Die aanpassingsrealiteit skop egter kwaai in wanneer jy kompeterende wedstryde wil wen: Jy kan dit slegs doen met goeie taktiese vaardighede en houe wat meer vir strandtennis geskik is,” sê Yelverton.

“Om jou stempel in strandtennis af te druk, moet jy bestendig wees. Jy kan byvoorbeeld nie dink jy gaan al jou punte vinnig wen nie. Jy kan langer potte in strandtennis verwag, en jy moet bereid wees om vir langer periodes aan jou strategie te skaaf. Dan moet jy ook lekker met jou spanmaat kan kommunikeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.