Henin: ‘Tyd dat mense besef hoe goed Novak is’

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

As daar iemand in die sportwêreld is wat weet hoe om rekords te verbeter, dan is dit Novak Djokovic.

Die 34-jarige tennisspeler het met sy onlangse sege in Parys sy 37ste Meesters 1000-titel ingeoes, terwyl hy ook vir die sewende keer dié jaar as die wêreld se voorste speler afsluit.

Sodoende het hy ’n rekord van Rafael Nadal en Pete Sampras verbeter. En dit lyk nie of hy enigsins van plan is om binnekort die aftog te blaas nie. Jim Courier, ’n voormalige wêreldno.1-speler, het vroeër gesê hy wens dat Djokovic tot 40-jarige ouderdom sal speel, terwyl Justine Henin ook die Serwiër se lof besing het.

“Novak is ’n unieke speler. Ek dink dit is tyd dat mense begin besef hoe goed hy is,” het die Belgiese Grand Slam-wenner gesê.

“Jy kan van hom hou of nie – ek weet daar is baie mense wat nie veel ooghare vir hom het nie – maar wat hy op die tennisbaan vermag is doodeenvoudig verstommend.”

Volgens Henin is die Serwiër se veerkragtigheid en veggees van sy uitnemende sterk punte.

“Ek dink ook sy nederlaag in die onlangse Amerikaanse Ope teen Daniil Medvedev was ook nodig sodat hy weer vir ’n slag kon asemhaal en vir almal wys hy is ook net ’n mens. Hy was ook nog nooit só geliefd op ’n tennisbaan soos in daardie wedstryd nie.”

Hoewel Medvedev Djokovic se droom om al vier Grand Slam-titels in een kalenderjaar in skerwe laat spat het, het hy steeds geglimlag.

“Natuurlik is ek hartseer, daar was so baie op die spel. Maar selfs al het ek nie gewen nie, is ek steeds die gelukkigste man ter wêreld, want julle het my baie spesiaal laat voel. Ek het nog nooit so in New York gevoel nie,” het ’n emosionele Djokovic ná die wedstryd gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanja ·

Ek stem saam, mense moet begin besef watse goeie tennis speler Novak Djokovic is! Ek geniet sy tennis wedstryde vreeslik baie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.