Henry sê eers koebaai vir sosiale media

Thierry Henry was ini sy speeldae een van die wêreld se bestes. Foto: Graham Stuart/AFP.

Die voormalige Franse doelskieter Thierry Henry het besluit om sosiale media te boikot in protes teen rassistiese kommentaar en kuberboelies.

Die 43-jarige oudspeler, wat in 1998 die Wêreldbeker-sokkertoernooi saam met Frankryk gewen het en een van Barcelona en Arsenal se sterre was, het 2,3 miljoen volgelinge op Twitter. Hy het egter gesê dat dit tyd is om standpunt teen ongevraagde kommentaar op sosiale media in te neem.

“Die dinge wat ek normaalweg gedurende wedstryde gehoor het, begin nou ook in sosiale media ’n stem te kry. Mense moet begin besef dat dit nie oukei is om onder sulke boelies deur te loop nie,” het Henry gesê.

Swart sokkerspelers soos Kemar Roofe en Anthony Martial het onlangs van kuber-rassisme gekla, terwyl sommige spelers selfs skrikkerig is om op sosiale media te gaan.

“Dit is nie ’n veilige plek nie. Iemand soos Crystal Palace se Wilfried Zaha het al gesê dat hy te bang is om na die kommentaar te kyk; dit moet nie so wees nie.”

Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP.

Volgens Henry is sosiale media belangrik, maar dat dit betreurenswaardig is dat dit deur sommige gebruikers, wat agter ’n valse profielnaam wegkruip, misbruik word.

“Ek is nie teen die gebruik daarvan gekant nie; ek wil net graag hê dat dit ’n veilige plek vir almal moet wees. ”

Gareth Bale, die Walliese ster wat deesdae vir Tottenham Hotspur in aksie is, het gesê dat hy bereid sal wees om Henry se veldtog te ondersteun nadat van sy nasionale spanmaats ook op sosiale media geteiken is.

“As almal bereid is om sosiale media te boikot, en nie net een of twee verbruikers nie, sal ek dit ook doen. As invloedryke sportmanne en -vroue saamstaan, kan dit ’n verskil maak,” het Bale gesê.

Maroela Media het verlede Desember onder meer berig dat ondersteuners van Millwall Football Club in Engeland hul spelers uitgejou het wat die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging gebuig het.

Dit was destyds die eerste keer sedert Maart 2020 dat ondersteuners by wedstryde in Engeland toegelaat word en 2 000 geesdriftige toeskouers het luidkeels hul misnoeë met die spelers se gebaar te kenne gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.