Holger skrik nie vir wedstrydpunt teen hom

Holger Rune is die ene konsentrasie. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Wie is skrikkerig vir ʼn wedstrydpunt teen jou? Beslis nie Holger Rune nie!

Die 20-jarige speler het ʼn goeie terugvegpoging teen Taylor Fritz in die vierde ronde van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië van stapel gestuur.

Rune was met sy rug teen die muur nadat sy Amerikaanse teenstander die eerste stel beklink het en ʼn goeie voorsprong in die tweede stel opgebou het.

Maar die Deen het doodeenvoudig geweier om handdoek in te gooi en hy het die wedstryd uiteindelik met 2-6, 7-6 en 6-3 gewen.

“Dit was malligheid. Ek het aanhou veg en net probeer om op elke punt te konsentreer en nie te ver vooruit te dink nie. Gelukkig kon ek baie beter teen die einde van die tweede stel speel,” het Rune gesê.

“Ek het vas geglo dat ek een of ander tyd met meer ritme sou begin speel.”

Volgens Rune gaan hy ook nie veel aan sy wedstrydplan karring wanneer hy in die kwarteindstryd teen Rusland se Daniil Medvedev te staan kom nie.

“Ek is is ʼn speler wat aanvallende tennis speel, ongeag wie my teenstander is. Daniil is egter ʼn perd van ʼn ander kleur – die enigste ooreenkoms tussen hom en Taylor is hul afslaanwerk.”

In die vroueafdeling het Emma Navarro vir ietwat van ʼn opskudding gesorg toe sy die tweede gekeurde Aryna Sabalenka uitgeskakel het.

Die eindtelling was 6-3, 3-6 en 6-2 in die Amerikaner se guns.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Grigor Dimitrov met 6-4 en 6-4

Tommy Paul klop Luca Nardi met 6-4 en 6-3

Casper Ruud klop Gael Monfils met 3-6, 7-6 en 6-4

Holger Rune klop Taylor Fritz met 2-6, 7-6 en 6-3

Coco Gauff klop Elise Mertens met 6-0 en 6-2

Emma Navarro klop Aryna Sabalenka met 6-3, 3-6 en 6-2

Maria Sakkari klop Diane Parry met 6-2, 3-6  en 6-3

Yue Yuan klop Daria Kasatkina klop 4-6, 6-3 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.