Holtzhausen kondig haar netbal-uittrede aan

Maryka Holtzhausen in aksie by die pasvoltooide Wêreldbeker-netbaltoernooi. (AP Photo/Rui Vieira)

Ná ’n professionele netballoopbaan van 12 jaar en 116 toetswedstryde vir die Proteas het Maryka Holtzhausen besluit om haar tekkies op te hang.

Die kookwater-doelskieter was drie keer in aksie by die Statebondspele, asook by drie Wêreldkampioenskappe. Tussendeur al die doele het sy die Proteas vir ’n paar jaar (2012-2014) op die baan gelei, terwyl sy die eerste Suid-Afrikaanse speler was om in die Verenigde Koninkryk se uiters mededingende Netbal Superliga te speel.

Sy het egter besluit dat sy haar laaste Protea-doel by die afgelope Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool gegooi het.

“Wanneer ’n speler van Maryka se kaliber besluit om haar internasionale loopbaan vaarwel toe te roep, is dit nooit ’n maklike besluit om te aanvaar nie en ons glo dat dié besluit ook nie maklik vir haar was nie,” het die president van Netbal Suid-Afrika, Cecilia Molokwane, gesê.

“Ons is baie dankbaar dat só ’n talentvolle speler die Groen-en-goud gedra het en ons wens haar alle sterkte vir haar toekomstige avonture toe.”

Op haar beurt het Holtzhausen erken dat die besluit glad nie maklik was nie.

“Daar is maar baie gemengde gevoelens in my hart as ek eerlik moet wees. Hoewel ek my by die besluit berus, is dit hoegenaamd nie maklik om totsiens te sê vir só ’n groot deel van my lewe nie,” het sy gesê.

Een van haar spanmaats, Vanes-Mari Proudfoot, het gesê dat Holtzhausen ’n baie goeie vriendin is om te hê.

“Maryka is vir my ’n voorbeeld van stille waters, diepe grond. Sy was altyd gereed vir ’n lekker lagsessie, terwyl sy oor baie wysheid beskik en jou met haar optrede motiveer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NetbalFAN ·

Groot verlies vir die Proteas, maar dankie vir n merkwaardige loopbaan en fantastiese rolmodel wat jy is! Geniet jou aftrede!

Baie dankie ·

Pragtige loopbaan, pragtige meisie. Baie dankie vir jou merkwaardige bydrae, Maryka

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.