Hongaarse eerste minister verdedig uitjouery

Viktor Orbán. Foto: Attila Kisbenedek/AFP.

Die Ierse sokkerspan is Dinsdag deur die Hongaarse skare uitgejou toe hulle die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging in Boedapest gebuig het.

Nou het die land se eerste minister, Viktor Orbán, die toeskouers verdedig wat hul misnoeë met die gebaar te kenne gegee het.

“Ons kan hierdie gebaar [om die knie te buig] op geen ander wyse interpreteer nie. Wanneer ons dit vanuit ons kulturele oogpunt beskou, is dit uittartend en onbegryplik,” het Orbán gesê.

Volgens die 58-jarige politikus kniel ’n Hongaarse burger net voor sy God, sy vaderland en wanneer hy sy vrou vra om met hom te trou.

“Om te kniel vir enige ander rede is volksvreemd vir ons. Toeskouers sal op iets reageer wanneer hulle uitgelok word – nie altyd op die manier waarop ’n mens verwag nie.”

Intussen is Engeland se sokkerspelers deur hul eie ondersteuners uitgejou toe hulle voor hul wedstryde teen Oostenryk en Roemenië gekniel het.

Engeland se breier, Gareth Southgate, het sy spelers as rolmodelle beskryf wat ook ’n belangrike rol vervul om mense oor ongelykhede in die samelewing in te lig.

Tog het Lee Anderson, ’n parlementslid, gesê dat hy nie een van Engeland se Euro-wedstryde sal kyk as hulle met die gebaar sou voortgaan nie.

Nóg ’n parlementslid, Brendan Clarke-Smith, meen dat ondersteuners siek en sat daarvoor is .

“Hulle is moeg om voor gepreek te word en wil net ’n goeie wedstryd op die veld sien.”

Dean Elgar, Suid-Afrika se nuwe toetskaptein, het op die vooraand van die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia gesê dat individuele Protea-spelers self kan besluit of hulle wil kniel of staande bly in die komende reeks.

“Die spelers is die vryheid gegun om hul eie keuse te maak. Indien iemand gemaklik daarmee is om die knie te buig, mag hy,” het Elgar gesê.

Spelers kan ook ’n gebalde vuis lig, sou hulle dit verkies.

“As die spelers nog nie heeltemal gemaklik met die gebare is nie, kan hulle op aandag staan om steeds die veldtog te respekteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Ten minste ‘n leier wat verstand en murg in sy pype het!!!!!!

Karlahari

Ek het die WesKaap oorweeg, maar Hongarye klink na ‘n beter oplossing.

Boerkind

Mag die Here Orban en Hongarye ryklik seën wat nie aan die diaboliese ritueel deelneem nie!

Rian

Lekker man, lekkeŕrrrrrrrr…….

JohanCzu

Ek kon dit nie beter gestel het nie.