Horner verduidelik Red Bull-strategie

Goeie spanmaats: Max Verstappen en Sergio Perez. Foto: Steven Tee/AFP.

“As jy nie eerste is nie, is jy laaste,” was een van Ricky Bobby se motorsportwyshede in die gewilde komedie Talladega Nights.

En die kans is goed dat Sergio Perez ná Sondag se Spaanse Grand Prix heelhartig met dié kwinkslag kan saamstem.

Die Red Bull-renjaer het op ’n stadium sy neus heel voor in Barcelona gehad, maar sy span het hom opdrag gegee om Max Verstappen (sy spanmaat en die verdedigende wêreldkampioen) verby te laat gaan.

Verstappen het uiteindelik die wedren gewen, terwyl Perez met ’n tweede plek tevrede moes wees.

“Dit is baie onregverdig, maar oukei,” was die Meksikaanse renjaer se woorde toe hy plek vir sy spanmaat moes maak; ’n uiteindelike tweede plek wat meer met ’n frons as ’n glimlag gevier is.

Christian Horner (Red Bull-spanbaas) het simpatie met Perez, maar glo dat die regte strategie gevolg is.

“Hulle het twee verskillende strategieë gevolg en dit was nie noodwendig ’n uitgemaakte saak nie. Max se bande was baie nuwer, terwyl Sergio dit glad nie tot die einde met sy stel bande sou gemaak het nie. Dit is waarom hy ook teen die einde van die wedren die kuipe besoek het om die vinnigste ronde op te stel.”

Strategiegewys sou Perez twee keer die kuipe in Barcelona besoek, terwyl Verstappen drie keer ’n draai sou gemaak het. Volgens Horner is dit die span se verantwoordelikheid om al twee motors sonder enige probleme oor die eindstreep te kry.

“Ek het begrip daarvoor dat hy dit tydens die wedren nie kon verstaan nie, maar Max het só ’n groot bandevoordeel gehad. Dit sou net nie sin gemaak het as Sergio tot die einde voorgeloop het nie.”

Terselfdertyd is hy in sy skik dat vuur om te wen helder in Perez brand.

“Hy is ’n renjaer. As hierdie goed hom nie pla nie, dan doen hy nie sy werk behoorlik nie.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 110 punte
  2. Charles Leclerc: 104 punte
  3. Sergio Perez: 85 punte
  4. George Russell: 74 punte
  5. Carlos Sainz: 65 punte
  6. Lewis Hamilton: 46 punte
  7. Lando Norris: 39 punte
  8. Valtteri Bottas: 38 punte
  9. Esteban Ocon: 30 punte
  10. Kevin Magnussen: 15 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 195 punte
  2. Ferrari: 169 punte
  3. Mercedes: 120 punte
  4. McLaren: 50 punte
  5. Alfa Romeo: 39 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

Wat baie mense mis kyk is dat dit eintlik ‘n span sport is. Hulle sal altyd doen wat die beste is vir die span as ‘n geheel ivm strategie. Die span punte leer is waar die spanne actually geld maak.

Maar ek voel jammer vir Perez. Hy is ‘n uitmuntende renjaer en in my opinie kan hy maklik kompeteer vir die no1 plek. Red Bull sal moet vasklou aan hom, want ‘n ander span sal hom vinnig opraap.

Ek is mal oor Max, maar uit ‘n objektiewe oogpunt word hy deur Red Bull bederf, net soos Mercedes Hamilton ophemel.

Koos 100 ·

Twallie. My eerste gedagte ook. Alle F1 wêreld kampioene het die voorkeur behandeling gekry. Dis hoekom daar ‘n nr. 1 en nr.2 bestuurder is. Irvine en Rubens moes vir MS terug staan. So ook Bottas vir LH. So ook DC vir Mika. Dis nie ‘n groot hoe haa nie…… behalwe as jy die sport nie verstaan nie

Koos 100 ·

Skuus, of nie van ‘n sekere span of bestuurder hou nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.