Christian Horner is baie trots op sy Red Bull-renjaers, maar hy het gewaarsku dat die span se F1-oorheersing nie vir altyd sal duur nie.
Max Verstappen en Sergio Perez was die afgelope naweek eerste en tweede oor die wenstreep in Monza met Verstappen wat sy tiende agtereenvolgende wedren gewen het – ʼn nuwe F1-rekord.
“Dit was terselfdertyd die span se 14de oorwinning van die seisoen; iets waarvan ons nooit in ons wildste drome gedroom het nie. Dit is baie moeilik om ʼn Grand Prix te wen, om dan nie eens van 14 op ʼn streep te praat nie,” het die Red Bull-spanbaas gesê.
Tog is daar ʼn tyd en ʼn plek vir alles en Horner weet dat die uurglas van só ʼn aan-die-wen-bly-avontuur skielik kan leegloop.
“Ons jaag teen sterk teenstanders en ons probeer om dinge nie te ver vooruit te loop nie. Een of ander tyd gaan iemand ons klop; dit is een van sport se onvermydelikhede. Ons moet net sorg dat dit nie in die afsienbare toekoms gebeur nie.”
Hy het Verstappen ook vir sy toewyding en professionele benadering geloof.
“Ek sou nie sê dat Max op sy senuwees in aanloop tot die Monza-wedren was nie, maar hy was skerper as ooit. ʼn Mens kon duidelik sien dat dit ʼn spesiale rekord en wedren vir hom is.”
Jaerspunteleer:
- Max Verstappen: 364 punte
- Sergio Perez: 219 punte
- Fernando Alonso: 170 punte
- Lewis Hamilton: 164 punte
- Carlos Sainz: 117 punte
- Charles Leclerc: 111 punte
- George Russell: 109 punte
- Lando Norris: 79 punte
- Lance Stroll: 47 punte
- Pierre Gasly: 37 punte
Vervaardigerspunteleer:
- Red Bull: 540 punte
- Mercedes: 255 punte
- Aston Martin: 215 punte
- Ferrari: 201 punte
- McLaren: 111 punte.