Hulde stroom in ná SA sokkerspeler se dood

Anele Ngcongca in aksie vir Mamelodi Sundowns teen Al-Ahly. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Suid-Afrikaanse sokkerlandskap is vandeesweek geruk met die nuus van Anele Ngcongca se dood.

Die 33-jarige voormalige Bafana Bafana-verdediger is gisteroggend vroeg in ’n motorongeluk op die N2-hoofweg in KwaZulu-Natal dood. Volgens berigte was hy op pad huis toe.

Ngcongca was een van Mamelodi Sundowns se grootste sterre, maar hy sou binnekort as ’n leenspeler vir die Durbanse klub AmaZulu bekendgestel word.

Die talentvolle verdediger het meer as 50 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel en was deel van Bafana Bafana se Wêreldbeker-veldtog in 2010. Hy was ook vir ’n hele paar seisoene in België in aksie, waar hy in 279 kragmetings vir KRC Genk uitgedraf het.

Huldeblyke stroom in na sy dood.

“Anele was ’n stil en nederige persoon wat nie veel gesê het nie. Maar wanneer hy gepraat het, het almal geluister,” het sy suster, Siyasanga Ngcongca, luidens berigte gesê.

Van sy Belgiese spanmaats, Kevin de Bruyne en Thibaut Courtois, het Ngcongca se nagedagtenis op sosiale media geëer.

“Hy was een van die mees entoesiastiese spelers wat ek nog ooit ontmoet het en ek sal altyd sy glimlag onthou. Ons gaan jou baie mis, my vriend,” het Courtois, wat deesdae vir Real Madrid speel, op Twitter geskryf.

Ngcongca word hoog aangeskryf in België. Hy het ’n rits trofeë saam met Genk gewen, waaronder die beker as Pro Liga-wenners.

“Ons het pas die tragiese nuus omtrent Anele se dood verneem. Ons klub se innige simpatie aan sy familie en vriende. Rus in vrede, Anele,” het KV Kortrijk op sosiale media geskryf.

Op tuisbodem het Bafana Bafana, Mamelodi Sundowns en die Blou Bulle onder meer hulde aan Ngcongca gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.