‘Iemand’ sal nog Phelps se rekord verbeter

Michael Phelps Foto: thrivesports.com

Michael Phelps se Olimpiese getuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof: Die Amerikaanse swemsensasie spog met 28 medaljes (23 goud, drie silwer en twee brons) by die Spele, tewyl sy skittervertoning in Beijing – waar hy agt goue medaljes ingeoes het – die beste individuele prestasie ooit by die internasionale sportskouspel is.

Maar, sê Michael Spitz, rekords word opgestel om uiteindelik verbeter te word. En die 71-jarige behoort te weet waarvan hy praat – sy rekord van sewe goue medaljes by die 1972-Spele het jare lank gestaan totdat Phelps op die toneel verskyn het.

“Dit gaan dalk nie in my of Michael se leeftyd gebeur nie, maar iewers in die toekoms gaan ’n sportverslaggewer iemand gelukwens wat nege goue medaljes gewen het. Dit is net hoe sport werk,” het Spitz gesê.

Volgens Spitz is daar destyds vir hom gesê dat sy rekord só goed is dat dit nie sommer verbeter sal word nie.

“Phelps is egter ’n ongelooflike Olimpiese atleet en hy het baie opkomende sterre met sy prestasies geïnspireer.”

Hy het nóg ’n Amerikaanse swemmer – Caeleb Dressel – uitgesonder om die Olimpiese medaljefakkel by Phelps oor te neem.

Dressel het reeds Phelps se 100 m-vlinderslagrekord verbeter, terwyl hy in vier items by die Tokio-skouspel sal swem. Voeg daarby sy aflosdeelname en hier is ’n swemmer wat moontlik sewe goue medaljes kan inoes.

Chad le Clos saam met sy held Michael Phelps. Foto: Facebook

Suid-Afrika se Chad le Clos is ook weer op soek na nog Olimpiese medaljes.

Die 29-jarige swemmer sal in die 100 m- en 200 m-vlinderslagitems te siene wees. Indien hy ’n medalje wen, sal hy die eerste Suid-Afrikaner word wat in drie agtereenvolgende Olimpiese byeenkomste op die podium staan.

Le Clos het juis in 2012 die verbeelding van die swemwêreld aangegryp toe hy vir Phelps in die eindstryd van die 200 m-vlinderslagitem geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.