In die land van blindes is Laghat koning

Laghat het 26 wedrenne in sy loopbaan gewen. ’n Kinderboek oor sy lewe het in 2018 binne ’n maand uitverkoop. Foto: Twitter.

Die diereryk sorg gereeld vir verstommende stories maar Laghat, ’n Italiaanse resiesperd, sorg beslis vir lekkerlees-hoofstukke.

Die 17-jarige hings het as ’n jong perd ’n virus opgedoen waarna ’n infeksie (mikose) sy sig aangetas het. Hy het geen sig in sy regteroog nie, terwyl hy 95% van sy visie in sy linkeroog verloor het. Laghat geniet tans sy uittrede saam met sy stalbuurman Cerere en skoolkinders besoek hom nog gereeld.

Ten spyte van die terugslag het hy sy eerste wedren in 2006 gewen, gevolg deur ’n tweede sege van meer as ses lengtes.

Hy het uiteindelik in 123 wedrenne gehardloop, waarin hy 26 keer eerste oor die wenstreep was. Hy het ook meer as R2 miljoen se prysgeld vir sy eienaar in die sak gebring.

Skoolkinders besoek hom nog gereeld. Foto: Facebook.

Volgens oorsese berigte het Lagthat ’n bohaai in die stalle opgeskop wanneer hy verloor het, maar was hy heel rustig wanneer hy op ’n dag gewen het.

Federico de Paola, sy eienaar, vertel dat Laghat oor ’n sesde sintuig beskik het wat vir hom “vertel” het waar om te hardloop.

Die verstandhouding met sy jokkie, Guiseppe Virdis, was ook verstommend: Mens en dier het mekaar volkome vertrou.

Hy het sy laaste resies in 2015 gehardloop en die plaaslike renbaan het destyds ’n spesiale geleentheid aangebied om sy loopbaan mee te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.