In dié skynwêreld sou Murray die septer swaai

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

“Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie sou die beste gewees het sonder dié drie in tennisland?”

Baie tennisliefhebbers moes sekerlik al gewonder het hoe die tenniswêreld sou gelyk het as supersterre soos Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer eerder rolbal, skaak of veerpyltjies gespeel het.

Want kom ons wees eerlik: Ander spelers kry nie eintlik veel geleentheid om groot titels in te oes nie, of hoe?

Danksy dié drie se heldedade is 63 Grand Slams en meer as ’n 100 Meester 1 000-titels buite sirkulasie vir die res geplaas.

Fox Sports in Australië het onlangs ’n lekker eksperiment gedoen om te bepaal wie die voorste speler in Djokovic, Nadal en Federer se afwesigheid sou wees.

Titels is aan spelers toegeken wat in ’n eindstryd teen een van die drie vasgeval het, óf wanneer hulle goed in ’n halfeindstryd gespeel het as die daaropvolgende eindstryd ’n Djokovic/Nadal- of Federer/Djokovic-affêre was.

Groot-Brittanje se Andy Murray. Argieffoto.

In hierdie skynwêreld sou Groot-Brittanje se Andy Murray waarskynlik as die voorste tennisspeler op die internasionale verhoog bekend gestaan het.

In die “Groot Drie” se afwesigheid kon die 35-jarige Skot 17 Grand Slam-titels ingeoes het, terwyl Stan Wawrinka ook met meer titels sou gespog het.

Wawrinka, wat sekerlik met die titel as Switserland se beste speler nóg sou rondgeloop het as dit nie vir Federer was nie, sou dan die wenner van sewe Grand Slam-titels gewees het.

Ander groot wenners sou Andy Roddick (ses titels), Dominic Thiem (vier titels) en Daniil Medvedev (vier titels) gewees het. Selfs Suid-Afrika se Kevin Anderson kon met ’n titel of twee gespog het nadat hy al in eindstryde teen Nadal (Amerikaanse Ope in 2017) en Djokovic (Wimbledon in 2018) vasgeval het.

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Helaas is dit hulle nie beskore nie en tennisliefhebbers is baie bevoorreg om die Groot Drie in aksie te sien.

Tog is dit nie altyd net maanskyn en rose nie.

Want, te wyte aan sy knieoperasies wat hom buite aksie hou, verskyn Federer se naam vir die eerste keer in meer as 20 jaar nie meer op die ATP-ranglyls nie.

Die 40-jarige Switserse ster het tans geen punte agter sy naam nie omdat ’n speler se uitslae van die afgelope jaar ’n beduidende invloed op sy plek op die ranglys het.

Federer se laaste wedstryd was op 7 Julie 2021 in die kwarteindstryd van Wimbledon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.