Ine-Marí ’n krag in die doelsirkel

Ine-Marí Venter sorg deesdae vir vuurwarm vertonings op die netbalbaan.

Die 26-jarige Suid-Afrikaner was die afgelope naweek in Engeland vir 55 van Saracens Mavericks se doele in hul oorwinning van 60–54  teen Celtic Dragons verantwoordelik. Sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Venter laat ongetwyfeld die kwik in die doelsirkel styg en sy was ook een van Dorette Badenhorst (Protea-afrigter) se steunpilare in die onlangse vierhoekige internasionale reeks in Londen.

Sy was goed teen Engeland en beter teen Australië, terwyl sy haar beste vertoning vir laaste teen Nieu-Seeland gelos het.

Haar spel teen die Kiwi’s het spesiale vermelding verdien en sy het veral met haar akkurate en kalm spel beïndruk. ’n Mens kon sien dat sy trots is om haar land op die netbalbaan te verteenwoordig en sy het toe met net een van haar 36 doelpogings skeef gekorrel.

Met die Statebondspele om die draai sal Badenhorst hoop dat Venter se goeie spelpeil nog lank sal voortduur.

Die doel van 1,92 m is in elk geval ook lus om vir Suid-Afrika op die groot verhoog uit te blink. Haar netbaldroom is juis om ’n medalje vir die Proteas by ’n belangrike uitkloptoernooi te wen.

“Om te speel en op die podium te staan is twee heeltemal verskillende dinge. Dan wag ek nog vir die dag dat netbal ’n Olimpiese sport word; hopelik speel ek nog wanneer dit wel by die Spele ingesluit word!” het sy in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

  • In ander Engelse ligawedstryde het Lefébre Rademan altesaam 33 doele in die Celtic Dragons se eerste twee wedstryde van die seisoen aangeteken, terwyl Zanele Vimbela en haar Loughborough Lightning-spanmaats vir London Pulse met 61–50 geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hendrik

mooi