Inenting keer Novak ook om in Kanada te speel

Novak Djokovic van Serwië. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Novak Djokovic se inentingstatus beteken dat hy ook nie deel van die tennisaksie by die komende ATP-toernooi in Montreal sal wees nie.

Net soos in die VSA moet reisigers wat Kanada wil besoek ook kan bewys dat hulle teen Covid-19 ingeënt is.

Eugene Lepierre, toernooi-organiseerder, het juis vroeër gesê die kans is maar skraal dat Djokovic toegelaat sal word om in Kanada af te slaan.

“Iets gaan moet verander – óf die Kanadese regering gaan die regulasies rakende hul inentingsvereistes moet hersien, óf hy gaan sy mou moet oprol en die entstof kry. Ek dink egter nie een van hierdie scenario’s is tans baie realisties nie,” het Lepierre gesê.

Intussen is daar ’n petisie op change.org van stapel gestuur wat eis dat die Serwiese ster toegelaat word om aan die Amerikaanse Ope deel te neem.

Meer as 46 800 mense het dit al onderteken en Djokovic het ook met ’n boodskap op sosiale media almal vir hul ondersteuning bedank.

“Ek is ongelooflik dankbaar om soveel ondersteunende boodskappe te ontvang. Ek het dit hoegenaamd nie verwag nie en dit is waarom dit so verstommend is. Baie dankie,” het die Serwiër getwiet.

Die Amerikaanse Ope vind vanjaar op 29 Augustus in New York plaas en die kans is groot dat Djokovic nie daar deel van die aksie sal wees nie.

Verskeie Amerikaanse politici – onder wie Paul Rudd – het al hul stemme oor die kwessie dik gemaak.

“Hoera vir die heldhaftige standpunt wat Novak Djokovic vir mediese vryheid ingeneem het,” het die lid van die Amerikaanse senaat getwiet.

Hy het terselfdertyd na die “onwetenskaplike beleid” gekap wat besoekers aan die VSA verbied wat, volgens hom, reeds natuurlike immuniteit teen Covid-19 opgebou het.

Dan wil John McEnroe ook vir Djokovic in die VSA sien speel.

“Kom ons wees eerlik: Politici meng hopeloos te veel in. Gee hom die groen lig om in die VSA te speel, want hierdie kwessie raak nou belaglik. Ongeag wat jy dink die regering moet doen of nie moet doen nie; soos wat dinge nou staan, ly tennis hieronder,” het McEnroe aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Editor

Belaglik.

VaalDonkie

Hy het dan alreeds COVID gehad. So wat is die probleem? Dis nie asof die tjappie keer dat jy ander kan aansteek nie.

Groen Ghoen

Biden het blykbaar alle inspuitings gehad en het steeds Covid opgedoen. O ja…. hy kon dit nog veel erger gekry het.

Anel

Ag, asseblief! Gelukkig het ek ook geen begeerte om na daardie 2 lande te reis nie. Vir hoeveel jaar wil hulle nog daarmee aanhou, selfs die ou vieslike maskertjies? Novak, die ou tannie ondersteun jou 100%. Staan by jou beginsels. Jammer daar is nie meer soos jy nie. Sport is mos ‘n afgod deesdae. Het lankal al my lus vir dit verloor. Veruil nie my siel nie. Sterkte!