Inentingstatus steek stokkie voor Thiem se Weense deelname

Oostenryk se Dominic Thiem. Foto: Twitter.

Oostenryk se Dominic Thiem, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het, mag volgens mediaberigte nie aan ’n tennistoernooi in sy eie land deelneem nie.

Organiseerders van die Weense Ope in die Oostenrykse hoofstad het glo Thiem deelname aan die toernooi geweier omdat hy nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Die 28-jarige speler het egter vroeër gesê dat hy bereid is om teen die virus ingeënt te word, veral as dit ’n vereiste is om wedstryde te speel. Hy wag egter vir die beskikbaarheid van ’n spesifieke entstof, Novavax.

“Ek wag spesifiek vir Novavax omdat ek by my dokter gehoor het dat dit baie goed werk,” het die Oostenryker met die oog op volgende jaar se Australiese Ope in Melbourne gesê.

Thiem is op die herstelpad nadat hy ’n gewrigbesering tydens die Mallorca-Ope in Junie opgedoen het.

Intussen het die Aussie-speler John Millman ’n beroep op organiseerders en die regering gedoen om Novak Djokovic toe te laat om aan die Australiese Ope deel te neem; selfs al het hy nie die entstof ontvang nie.

Die eerste Grand Slam-toernooi van die nuwe jaar is tans ’n logistieke deurmekaarspul nadat Scott Morrison, Australië se eerste minister, gesê het dat spelers wat nie ingeënt is nie, toegelaat sal word om te speel, mits hulle vir twee weke isoleer.

Aan die ander kant sê Daniel Andrews, Victoria-premier, dat slegs spelers wat ten volle teen Covid-19 ingeënt is, toegelaat sal word om in Melbourne af te slaan.

“Ek wil graag hê dat alle spelers ’n geleentheid kry om tennis te speel; selfs al moet hulle vir 14 dae isoleer omdat hulle nie ingeënt is nie. Die ATP (internasionale beheerliggaam vir manspelers) het inentings nog nie verpligtend gemaak nie, maar hulle sal nie in die pad van plaaslike regeringsregulasies staan nie,” het Millman in ’n radio-onderhoud gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanja ·

dit is absoluut mallegeid!!! ek kan nie verstaan dat in die jaar 2021 mense gedwing word om iets te doen nie, ons lewe al lankal nie meer in die 1300’s nie

piet ·

Hy word nie gedwing nie. Jou werkgewer het egter reels,as jy dit nie wil nakom nie is daar gevolge…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.