Inspirerende SA’ner staan trots op CrossFit-podium

Letchen du Plessis (heel links) saam met Shannon Ogar en Alisha Davis op die podium. Foto: Twitter via CrossFit Games.

Talle Suid-Afrikaanse sportsterre het die afgelope ruk gesê dat hulle poog om deur hul vertonings hoop te skep. Maar as daar nou iemand is wat dit ongetwyfeld regkry, is dit Letchen du Plessis.

Ja, sy is dalk (nog) nie so bekend soos ’n Tatjana Schoenmaker of ’n Bianca Buitendag nie, maar sy het die afgelope naweek op die podium in Madison, Wisconsin, gestaan toe sy die silwer medalje in die CrossFit-spele se Adaptive-kategorie ingeoes het.

Net 15 punte het tussen haar en die uiteindelike wenner, die VSA se Shannon Ogar, gestaan.

“Jammer dat ek nou eers na jou terugkom, ons was vandag besig met die toekenningseremonie,” het sy vroeër die week nog daar vanuit die VSA gesê.

Silwermedaljevreugde! Foto: Verskaf.

Nodeloos om te sê is sy baie trots op haar prestasie. En haar storie bevat hoofstukke van hoop (wéér daardie woord), deursettingsvermoë en ongelooflike wilskrag.

Die Akademia-student het in 2017 haar heup op die netbalbaan beseer en ná een van haar vele operasies is distonie by haar gediagnoseer – ’n neurologiese toestand wat onwillekeurige sametrekking en spasma van die spiere veroorsaak.

“Dit was ’n lang pad om tot hier uit te kom. Ek moes byvoorbeeld in 2019 weer van vooraf leer loop; om van daar tot by die [CrossFit-] Spele te vorder is iets waarop ek baie trots is.”

Sy sukkel met die heupbuigspiere van haar een sy en moet gevolglik met krukke hardloop. By die Spele is daar egter aan haar gesê dat sy nie met die hulpmiddel mag hardloop nie en sy moes die hardloopgedeelte van die eerste oefensessie op een been voltooi.

“Ek moes dus vyf kilometer so te sê op my een been hardloop en dit het my redelik seergemaak. Maar ek het deurgedruk en vir myself gesê dat ek hierdie item sál klaarmaak en al was ek heel laaste kon ek dit in minder as 40 minute voltooi.”

Daarna was sy eerste in drie van die daaropvolgende items en sy kon selfs die laaste oefensessie van die Spele ononderbroke doen – ’n prestasie waaroor sy baie dankbaar teenoor haar afrigterspan is.

CrossFitters roem hulself juis op die vriendelikheid van die fiksheidgemeenskap en Du Plessis het met van die sportsoort se topsterre skouers geskuur.

Foto: Verskaf.

“Ek het onder meer vir Justin Medeiros, Tia-Clair Toomey en Rich Froning (uiteindelike wenners) ontmoet en hulle almal is ongelooflike mense. Dan het ek om een of ander rede twee keer vir Dave Castro (organiseerder) ’n drukkie gegee,” vertel sy laggend.

Hier in Suid-Afrika het sy groot waardering vir CrossFit PBM se ondersteuning. Met al die reisregulasies in die Covid-19-era het sy skaars twee weke terug gehoor dat sy na die VSA mag vlieg, terwyl haar paspoort ook eers op die nippertjie gereed was.

“Ek dink nie ek sou alles sonder hulle kon doen nie!”

Volgens Du Plessis sal sy graag ook haar pad na Suid-Afrika se Paralimpiese Span wil oopveg – sy het immers gewigstoot en diskus op skool gedoen – terwyl sy beslis daardie goue medalje by die CrossFit-spele sal jaag.

“Die lekkerste ding van CrossFit is om iets te doen wat jy aanvanklik gedink het jy nooit weer sal kan doen nie. Dit is wat daagliks vir my motivering sorg.”

Schoenmaker en Kie. verdien dit om die koerantopskrifte te haal, maar daar moet ook plek wees vir Letchen du Plessis se bobaas prestasie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stofpoepertjie ·

Welgedaan, en dankie dat jul haar prestasie lugtyd gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.