Iron Mike wil sy bokshandskoene afstof

Mike Tyson. Foto: Twitter.

Die omstrede voormalige swaargewig-bokskampioen, Mike Tyson, wil op 53-jarige ouderdom weer sy bokshandskoene nadertrek.

Maar waar hy vantevore sy teenstanders binne sekondes kon uitslaan of selfs hul ore gebyt het, wil hy nou sy vuiste vir ’n goeie doel swaai.

“Ek wil gimnasium toe gaan en weer fiks word om drie of vier rondes ten bate van liefdadigheidsorganisasies te boks. Dalk ’n vertoonkragmeting om geld vir haweloses of dwelmverslaafdes in te samel,” het hy gesê.

En Iron Mike – soos wat hy in die bokswêreld bekendstaan – is gereed vir aksie.

“Ek doen gereeld twee uur se kardiowerk. Ek trap die oefenfiets en dan takel ek die trapmeul vir ongeveer ’n uur. Daarna doen ek ’n bietjie ligte werk met gewigte – so 300 herhalings – waarna ek begin skerm.”

Hy erken egter dat sy lyf nie meer so lekker op 53-jarige ouderdom saamspeel nie.

“Dit voel soms asof drie ouens die rook uit my geslaan het nadat ek geoefen het.”

Toe hy Evander Holyfield se oor gebyt het. (AP Photo/Jack Smith).

Maar skaars ’n week nadat hy sy planne bekendgemaak het, het nóg ’n bokslegende, George Foreman, sy kommer uitgespreek.

Die 71-jarige Foreman, wat in 1994 die oudste swaargewig-kampioen geword het, meen dat Tyson nie weer in die kryt moet klim nie.

“Tyson het reeds genoeg vir boks gedoen en hy hoef homself nie weer te bewys nie. Hy is in die heldesaal opgeneem en hy kon ongelooflik hard slaan,” het Foreman gesê.

Tyson het oor ’n ystervuis beskik en 44 van sy 50 oorwinnings in die kryt was te danke aan ’n uitklophou.

Hy het ook in 1999 – nadat hy geskors is omdat hy Evander Holyfield se oor in ’n boksgeveg gebyt het – vir Suid-Afrika se Francois Botha aangevat.

Hy het gesorg dat die Suid-Afrikaner ook harpuis ruik nadat hy hom in die vyfde ronde van hul geveg uitgeslaan het.

Tyson het in 2006 sy uittrede aangekondig nadat hy self in twee agtereenvolgende kragmetings uitgeslaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Die Wolf ·

Ag asseblief! Gaan sit op die stoep en speel met die kleinkinders.

Michael 1 ·

Tyson reken ek was die beste swaargewig bokser van alle tye todat sy afrigter dood is daarna het hy kop verloor en ongedisiplineer aangeploeter,ek stem saam bly uit die bokskryt anders gaan hy onthou word as die ou wat n spektakel van homself gemaak het.

Die Wolf ·

Nie net n spektakel maar kan die einde van sy lewe wees.

OW ·

Baie moeilik om iemand uit te sonder as die beste swaargewig bokser van alle tye.Mike Tyson was goed vir sy tyd.As jy na die onderhoude van afrigters luister en voormalige kampioene staan daar ‘n hele paar name uit oor ‘n redelike lang tydperk.Groot name wat as die beste beskou word is bv Joe Louis,Rockey Marciano,Mohammed Ali,George Foreman,Lennox Lewis ens.

Burgermeester ·

Moennie vir Gerrie ‘seer handjies’ Coetzee weg gooi nie.

Burgermeester ·

Die gedagte is rein, maar ek weet darem nie of dit die beste idee is nie. Ongeag, ek wil nie saam met hom in ‘n bokskryt klim nie, ek dink hy kan nog steeds ‘n massiewe hou slaan.

MakersMark ·

Mike sal waarskynlik vandag se narre wat hul voorhou as swaargewig kampioene pap slaan. Tyson Fury is heeltemal te stadig en het nie naastenby die handspoed om teen Tyson te veg nie. Dink Wilder se kieries knak na een Tyson linkerhaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.