Ironman-kampioen se man laat haar virtueel struikel

Mirinda Carfrae se podiumdrome is deur haar man belemmer. Foto: Facebook.

Soms kan selfs die beste bedoelings rampspoedige gevolge hê; vra maar net vir Tim O’ Donnell.

O’Donnell se vrou, die Ironman-kampioen Mirinda Carfrae, was hard op pad na ’n podiumplek in die eerste virtuele Ironman-kompetisie.

Deelnemers moes 5 km op ’n trapmeul draf, 90 km op ’n oefenfiets ry en dan weer 21 km draf.

Die 39-jarige Aussie was onder die voorste deelnemers en dinge het goed op die oefenfiets gelyk. Boonop is die vier professionele deelnemers, onder wie Suid-Afrika se Jeanni Seymour getel het, se fietssessies regstreeks op Facebook uitgesaai.

In aksie gedurende die kompetisie. Foto: Facebook.

Skielik – sonder enige waarskuwing – was die krag na haar oefenfiets afgesny.

“Ek het die oefenfiets die dag vóór die kompetisie geskuif en het aanvanklik gedink ek het dit nie behoorlik by die kragpunt ingeprop nie,” het Carfrae gesê.

Sy het dapper, maar krag- en dataloos, die skof voltooi. Die podiumplek het ook so saam met die krag by die venster uitgewaai.

Nadat beeldmateriaal op haar Instagram-rekening bestudeer is, het ’n tikkie knap speurwerk getoon dat haar man die sondaar is.

O’ Donnell het twee van Carfrae se trofees gegryp met die doel om sy vrou te motiveer en die ander deelnemers so ’n bietjie voor die kamera met die silwerware te intimideer.

Mirinda het darem reeds vir Tim vergewe. Foto: Facebook.

Terwyl hy trots met die trofees agter Carfrae se fiets rondparadeer, het sy voet per ongeluk aan die kragkabel vasgehaak en dit by die muur uitgetrek.

“Wat ’n mamparra!” het Carfrae laggend op Instagram gesê.

Toe sy van O’Donnell se flater bewus geword het, het sy ’n plakkaat in die rigting van die kamera gewaai met die woorde “Tim se skuld” daarop.

Oּ’Donnell, óók ’n kranige Ironman-deelnemer, neem binnekort aan sy eerste virtuele kompetisie deel.

Carfrae koester egter geen wraakplanne nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.