Is daar iemand wat Fraser kan stuit?

Mat Fraser. Argieffoto.

Jy hoef nie ’n Nostradamus te wees om die uiteindelike manswenner van die CrossFit Spele te voorspel nie. Eintlik kan jy net so ’n paar jaar in die onlangse geskiedenis teruggaan om te weet wie die gunsteling is.

Want vir die afgelope vier Spele – ná die Rich Froning-era natuurlik – is daar net een naam op almal se lippe: dié van Mat Fraser.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het gesorg dat die CrossFit Spele ook ’n splinternuwe baadjie moes aantrek: ’n Aanlyn kompetisie van sewe oefensessies het onlangs tot ’n einde gekom en die vyf beste mans en vroue het na die volgende ronde van die Spele op 19 Oktober aanbeweeg.

En raai wie was die eerste mansatleet ná die sewe oefensessies? Ja, jy het reg geraai: Fraser.

Die 30-jarige Amerikaner was weer eens in ’n klas van sy eie en het amper 200 meer punte as Noah Ohlsen in die tweede plek. Om hierdie prestasie in perspektief te plaas – Ohlsen het verlede jaar gesorg dat Fraser maar klippe by die Spele gekou het.

Fraser het die “Friendly Fran”-uitdaging in ’n tyd van 3:08 minute voltooi. Ja, sy poging sou vir hom ’n sewende plek in iets soortgelyks by die 2012-Spele besorg het, maar hy moes amper 40% harder – te danke aan swaarder gewigte en meer optrekke – as die atlete van agt jaar gelede gewerk het.

Wanneer hy hom oor ’n paar weke in Kalifornië vir die tweede ronde van die kompetisie aanmeld, sal hy ongetwyfeld die gunsteling wees om met die louere weg te stap.

Net Ohlsen het hom al per geleentheid laat sweet, terwyl Justin Medeiros, Samual Kwant en Jeffrey Adler nog nie genoeg ervaring het om bedreigings te wees nie.

CrossFit-geesdriftiges het al by Froning gepleit om weer vir oulaas as ’n individuele atleet deel te neem, maar die 33-jarige voel dat hy nie meer oor genoeg woema beskik om sy vyfde goue medalje op die individuele verhoog te wen nie.

Fisiek is hy sterker as ooit tevore, maar hy het net nie meer die lus om die regte motiveringskakelaar aan te skakel om die Spele as ’n individu te wen nie.

Mans toptien (eerste vyf gaan deur na volgende ronde)

  1. Mat Fraser (VSA): 656 punte
  2. Noah Ohlsen (VSA): 488 punte
  3. Justin Medeiros (VSA): 480 punte
  4. Samuel Kwant (VSA): 449 punte
  5. Jeffrey Adler (Kanada): 420 punte
  6. Chandler Smith (VSA): 418 punte
  7. Jonne Koski (Finland): 410 punte
  8. Bjorgvin Karl Gudmundsson (Ysland): 406 punte
  9. Pat Vellner (Kanada): 405 punte
  10. Samuel Cournoyer (Kanada): 395 punte

Vroue toptien (eerste vyf gaan deur na die volgende ronde):

  1. Tia-Clair Toomey (Australië): 611 punte
  2. Brooke Wells (VSA): 580 punte
  3. Haley Adams (VSA): 497 punte
  4. Katrin Davidsdottir (Ysland): 490 punte
  5. Kari Pearce (VSA): 451 punte
  6. Kristin Holte (Noorweë): 449 punte
  7. Kara Saunders (Australië): 448 punte
  8. Amanda Barnhart (VSA): 446 punte
  9. Kristi Eramo O’Connell (VSA): 402 punte
  10. Andrea Nisler (VSA): 394 punte

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Wonder waar was Chuck Norris die keer gewees?. Hy sou die knaap laat les opsê het en met die louere weggestap het.

Barend ·

Is Vernon Koekemoer nog in die omtrek, hy was beter as Chuck

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.