Is Federer, Nadal of Djokovic die beste?

Roger Federer en Rafael Nadal. (Foto: AP/Halden Krog)

GOAT is ’n lekker Engelse akroniem. Greatest Of All Time (GOAT) word gebruik wanneer daar rondom die braaivleisvure oor Jacques Kallis en krieket, Rich Froning en CrossFit of Danie Gerber en rugbysenters gepraat word.

Maar in die tenniswêreld is daar ’n effense grys area; want in Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic beskik die sport oor drie uitsonderlike manspelers.

Die 38-jarige Federer het 20 Grand Slam-titels agter sy naam, terwyl Nadal met 19 en Djokovic met 17 kort op sy hakke is.

Volgens die jongste ATP-wêreldranglys is Djokovic die voorste speler ter wêreld, gevolg deur Nadal met Federer in die vierde plek. Die Oostenryker Dominic Thiem vorm weliswaar ’n buffer tussen hulle, maar almal weet dat die driemanskap die septer in tenniskringe swaai.

Ivan Lendl, die voormalige no. 1-speler ter wêreld, voel ouderdom kan wel ’n rol speel om uiteindelik die beste te bepaal.

“Tans sou ek sê dat Federer die beste is, maar dit is nie ’n uitgemaakte saak nie. Djokovic en Nadal is jonger en hulle kan beslis sy Grand Slam-rekord verbeter,” het Lendl gesê.

Novak Djokovic van Serwië (14 Julie 2019) (Foto: @Wimbledon/Twitter)

Toe Federer op sy beste was (ouderdomsgewys) het hy 15 van sy Grand Slams gewen. In dieselfde tydperk het Nadal links en regs die Franse Ope gewen, terwyl Djokovic nog sy voete op die internasionale verhoog gevind het.

Serdertdien het die Serwiese ster egter 16 Grand Slams gewen. Gesamentlik het die driemanskap ’n ongelooflike 56 van die afgelope 67 Grand Slams ingepalm.

Die voormalige swaargewigbokser Mike Tyson is egter seker wie sy gunsteling is.

“Dit is ongetwyfeld Roger Federer. Dit is ongelooflik wat hy op sy ouderdom vermag,” het Tyson gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.