Is Tyson teen Holyfield weer op die spyskaart?

Mike Tyson teen Evander Holyfield. Foto: Twitter.

28 Junie 1997 is ’n datum waaroor boksgeesdriftiges vir altyd sal praat, want die vonke het behoorlik gespat in die swaargewig-tweestryd tussen Mike Tyson en Evander Holyfield in Las Vegas.

Holyfield het skaars sewe maande vantevore die bokswêreld geskok toe hy Tyson – die swaargewigkampioen – te danke aan ’n tegniese uitklophou in die 11de ronde ore aangesit het.

In hul herontmoeting het die humeure sommer vroeg al opgevlam: Holyfield het vir Tyson in die eerste ronde oordonder, terwyl hy hom in die daaropvolgende ronde sommer met die kop bygedam het. ’n Gefrustreerde Tyson het in die derde ronde genoeg gehad en Holyfield se oor gebyt.

Nodeloos het dinge vandaar nie té goed vir “Iron Mike” gelyk nie. Hy is weens die Holyfield-insident uit boks geskors, terwyl hy in 2006 amptelik ná twee agtereenvolgende uitklop-nederlae sy uittrede aangekondig het.

Maar op 53-jarige ouderdom het hy aangedui dat hy weer sy bokshandskoene wil nadertrek. Maar “The Baddest Man on the Planet” wil nou sy vuiste vir liefdadigheid swaai.

Video’s van Tyson se oefeninge laat die internet gons en selfs ’n gemengde gevegskuns-hardebaard soos Rafael Cordeiro was verstom oor sy vermoëns.

“Ek het aanvanklik nie geweet wat om te verwag nie; hy het immers seker tien jaar gelede met iemand geskerm. Maar jy kon my met ’n veertjie omtik toe ons begin het; ek het ’n ou gesien wat met dieselfde krag en spoed as ’n 21-jarige boks,” het Cordeiro gesê.

Maar intussen het die 57-jarige Holyfield óók sy handskoene afgestof en gesê hy is weer gereed vir aksie.

En moontlik wag daar ’n derde ontmoeting tussen dié twee, veral nadat Tyson nee vir ’n Sonny Bill Williams-geveg gesê het.

“Tyson se mense het met my mense gepraat en hoewel niks nog gefinaliseer is nie, is daar ’n kans dat ons weer saam in die kryt kan wees. As so iets wel moet realiseer, sal dit glad nie ’n probleem wees nie,” het Holyfield gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Ek is seker Mike Tyson kan die nuwe boks grap tyson fearry n drag slae gee.

twaalfboor ·

Iron Mike for the win…..”hands down”. Evander is eenvoudig nie in Mike se klas nie. Al wat hy nog ooit met Tyson kon uitrig is om hom te frustreer….. maar nie te wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.