Isner moker loopbaankishou no. 13 724

John Isner het met ’n skitterende afslaan-vertoning vorendag gekom. Foto: Sebastien Bozo/AFP.

Ondersteuners van Britse tennis moes maar sleg geslaap het ná gister se aksie op Wimbledon. Eerstens is Emma Raducanu deur Caroline Garcia uitgeskakel, waarna Andy Murray omtrent moes bontstaan teen John Isner se kragtige afslane.

Die 19-jarige Raducanu – die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen – het doodeenvoudig net slegter as haar Franse teenstander gespeel en sy het met 6-3 en 6-3 die onderspit gedelf.

Murray het egter sy bes in sy nederlaag teen Isner gedoen. Hy het slim tennis gespeel, terwyl die patriotiese Britse toeskouers hom ook aangevuur het.

Die enigste probleem was dat hy geen antwoord vir Isner se afslane gehad het nie.

Die 37-jarige Amerikaner het 36 kishoue afgestuur om die wedstryd met 6-4, 7-6, 6-7 en 6-4 te beklink.

“Hierdie is een van die grootste oorwinnings van my loopbaan. Andy Murray is een van die beste spelers ter wêreld en ’n inspirasie vir so baie mense,” het Isner ná afloop van die wedstryd gesê.

Hy het nou reeds 13 724 kishoue in sy loopbaan geslaan.

Dan het Carlos Alcaraz korte mette met Tallon Griekspoor gemaak om die wedstryd met 6-4, 7-6 en 6-3 te wen.

“Ek was vandag meer op my gemak as in die eerste ronde, maar ek sal nog harde werk op grasbane moet insit voordat ek op alle suiers kan vuur,” het die 19-jarige Spanjaard gesê.

Hy speel môre in die derde ronde teen Duitsland se Oscar Otte.

Novak Djokovic het ook sy plek in die derde ronde van die toernooi bespreek danksy ’n foutlose vertoning teen Thanasi Kokkinakis.

Die topgekeurde Serwiër het die Aussie met 6-1, 6-4 en 6-2 oorrompel en hy sal volgende teen sy landgenoot, Miomir Kecmanovic, te staan kom.

  • Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Tallon Griekspoor met 6-4, 7-6 en 6-3

John Isner klop Andy Murray met 6-4, 7-6, 6-7 en 6-4

Jannik Sinner klop Mikael Ymer met 6-4, 6-3, 5-7 en 6-2

Cameron Norrie klop Jaume Munar met 6-4, 3-6, 5-7, 6-0 en 6-2

Novak Djokovic klop Thanasi Kokkinakis met 6-1, 6-4 en 6-2

Ugo Humbert klop Casper Ruud met 3-6, 6-2, 7-5 en 6-4

Ons Jabeur klop Katarzyna Kawa met 6-4 en 6-0

Maria Sakkari klop Viktoriya Tomova met 6-4 en 6-3

Angelique Kerber klop Magda Linette met 6-3 en 6-3

Caroline Garcia klop Emma Raducanu met 6-3 en 6-3

Jule Niemeier klop Anett Kontaveitt met 6-4 en 6-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.