Ivanisevic: ‘Novak soos aksiehelde in flieks’

Novak Djokovic is die vasberadenheid vanself. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Novak Djokovic het Sondag die 20ste Grand Slam-titel van sy loopbaan ingeoes toe hy vir Matteo Berrettini in die eindstryd van Wimbledon geklop het. Met die Amerikaanse Ope om die draai kan hy Rod Laver se unieke prestasie van 1969 ewenaar om al vier Grand Slam-toernooie in een jaar te wen.

En as daar iemand is wat ’n onwrikbare geloof in Djokovic se vermoë het, dan is dit Goran Ivanisevic.

Die 49-jarige Kroaat het in 2001 vriend en vyand verras toe hy met die Wimbledon-louere weggestap het. Deesdae is hy lid van die Serwiër se afrigterspan en hy weet dus presies hoe helder die ambisievuur in Djokovic brand.

“Novak is soos die aksiehelde in die flieks. Maak nie saak hoeveel keer hy geskiet word nie, hy staan net elke keer op. Ek is trots op hom en ek weet dat hy die geskiedboeke sal herskryf,” het Ivanisevic gesê.

Volgens die oudspeler is enigiets met Djokovic moontlik – selfs nog ’n hele paar Grand Slam-titels.

“Dit is ’n eenvoudige stelling om te maak: Novak Djokovic is die beste speler ooit en ek glo hy gaan al vier Grand Slams in een jaar wen.”

Dit is egter nie net Djokovic wat onder druk is om te presteer nie; sy afrigterspan beland saam met hom in die drukkoker-situasies.

“Om saam met hom te werk is ’n reusevoorreg, maar dit is glad nie maklik nie. Om die eindstryd van ’n groot toernooi te haal is nie goed genoeg nie, ons hou net rekord van die seges. Ons het egter steeds baie pret.”

Djokovic was nie op sy heel beste in die eindstryd teen Berrettini nie en hy het ’n hele paar ongedwonge foute gemaak. En dít – volgens Ivanisevic – is presies wat hom van ander spelers onderskei: Die vermoë om te wen selfs wanneer hy sukkel.

“Daar is elke dag iets nuuts; elke dag iets beters. Hy gaan nie ophou nie. Hy wil nie ophou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.