‘Ja, ek het’

Australië se Ricky Garard. Foto: Twitter.

“Ja, ek het,” was Ricky Garard se doodeerlike antwoord toe hy gevra is of hy willens en wetens opkikkers gebruik het in sy opmars na ’n derde plek by die CrossFit-spele in 2017.

Garard – toe 23 jaar oud – het destyds vriend en vyand in sy Spele-buiging verras en selfs Mat Fraser moes gereeld oor sy skouer loer; die jong Aussie was gereeld op sy hakke.

Die vreugdevure het egter net vir ’n rukkie gebrand: Hy is kort ná die afloop van die Spele positief vir die gebruik van verbode middels getoets.

Sy plek op die podium is onder hom uitgeskop, sy tjek van amper $100 000 is teruggetrek en hy is vir vier jaar verbied om aan enige CrossFit-kompetisie deel te neem.

Kanada se Patrick Vellner – wat aanvanklik nie op die podium geëindig het nie – het toe amper ongesiens ’n hupstoot na die derde plek gekry.

“Gisteraand is ek as die derde fiksste man op aarde vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys. Niemand was daar om my geluk te wens nie – nóg my familie nóg my ondersteuners. Ek het die nuus gekry toe ek op my eie besig was om te studeer,” het ’n teleurgestelde Vellner gesê.

Garard het hom verder die gramskap van Fraser op die hals geloop toe hy die vyfmalige kampioen daarvan beskuldig het dat hy ook verbode middels gebruik.

Volgens Fraser het Garard selfs die CrossFit-hoofkwartier genader met konkrete bewyse dat hy ook opkikkers gebruik.

Die Aussie kon egter niks bewys nie, terwyl sy ouer broer (Ben) ook in 2019 positief vir die gebruik van verbode middels getoets het.

Garard se skorsing is egter nou iets van die verlede en hy sal al in Desember by ’n groot kompetisie in Dubai in aksie wees.

Die atleet, nou 27 jaar oud, is in Maart weer saam met CrossFit-sterre soos Vellner, Brent Fikowski en Chandler Smith getoets.

Almal se uitslae was negatief.

“Sedert ek op 3 Oktober 2017 positief vir die gebruik van verbode middels getoets het, het ek dit nog nooit weer geneem nie,” het Garard gesê.

Sommige CrossFitters, onder wie James Newbury, meen dat dit baie moed geverg het om weer op die groot verhoog deel te neem. Ander sê egter weer dat hulle die Aussie se toekomstige prestasies deurgaans met ’n knippie sout sal neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack Russ1

Wel gedaan. Jy is getoets, uitgevang en het jou straf uitgedien. Jy het ook erken dat jy verbode middels gebruik het, eerder as om dit te ontken soos vele ander.

Sterkte met die pad vorentoe. Jy gaan baie teenstand kry, maar jy weet jou gewete is nou skoon