‘Ja, hy kan beslis’

Max Verstappen en Lewis Hamilton. (Foto: Christophe Simon/AFP.)

As Max Verstappen hierdie naweek met die louere in die Kanadese Grand Prix wegjaag, sal hy met net soveel wedrenoorwinnings (41) as die legendariese Ayrton Senna spog.

Die jong Red Bull-renjaer het weliswaar nog ʼn steil pad wat voorlê as hy die algehele rekord – Lewis Hamilton se 103 seges – wil verbeter, maar vriend en vyand meen hy is op koers om die geskiedenisboeke te herskryf.

“Ja, hy kan dit beslis doen, hy het nog ʼn baie lang loopbaan wat op hom wag. Rekords is daar om verbeter te word en hy het ʼn ongelooflike span wat agter hom staan,” het Hamilton erken.

Hoewel Verstappen ʼn voorsprong van 53 punte bó sy naaste teenstander op die punteleer geniet, meen die Brit dat Mercedes alles in die stryd werp om weer vir ʼn tikkie mededingende aksie op die renbaan te sorg.

“Ons werk hard om die rekordlopie ʼn bietjie langer uit te rek. Ek hoop dat daar ten minste in die laaste gedeelte van my loopbaan ʼn paar naelbyt-wedrenne sal wees.”

Mercedes het juis met die sterkste vertonings in die oefenlopies van die naweek se Grand Prix in Montreál vorendag gekom.

Maar vroeër het Nico Rosberg – die voormalige Mercedes-renjaer en oudwêreldkampioen – gesê dat Verstappen reeds onder die bestes nóg tel.

“Ons is besig om iets geskiedkundigs eerstehands te ervaar. Dit is eintlik ʼn ongelooflike vertoning en kan in dieselfde asem as dié van [Michael] Shumacher, [Lewis] Hamilton en Senna genoem word.”

Die F1-aksie begin môre om 20:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Renjaers met die meeste wedrenoorwinnings:

  1. Lewis Hamilton: 103
  2. Michael Schumacher: 91
  3. Sebastian Vettel: 53
  4. Alain Prost: 51
  5. Ayrton Senna: 41
  6. Max Verstappen: 40
  7. Fernando Alonso: 32
  8. Nigel Mansell: 31
  9. Jackie Stewart: 27
  10. Jim Clark en Niki Lauda: 25

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.