Jabeur maak geskiedenis by Wimbledon

Ons Jabeur. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Ons Jabeur het Maandag geskiedenis by Wimbledon gemaak toe sy die eerste Tunisiër geword het om die kwarteindstryd by die All England Club te haal.

Die 24ste gekeurde Jabeur het die Pool Iga Swiatek met 5-7, 6-1 en 6-1 verslaan om haar tweede Grand Slam-kwarteindstryd te haal.

Jabeur (26) is die eerste Tunisiese vrou en Arabiese speler om die laaste agt op Wimbledon te haal. “Dit was ’n wonderlike wedstryd. Ek het aan die einde van die eerste stel verloor. Ek het nie gedink dat dit sou help om kwaad te word nie,” het Jabeur gesê.

Sy kom volgende teen die tweede gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus te staan. Dit sal Sabalenka se eerste Grand Slam-kwarteindstryd wees.

Novak Djokovic, wat ’n sesde Wimbledon-sege en 20ste major jaag, is halfpad daar om net die derde man te word om ’n kalenderjaar-Grand Slam te behaal.

Roger Federer. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

Roger Federer, ’n agtmalige kampioen, kom volgende teen Italië se Lorenzo Sonego te staan en indien hy wen, sal hy die oudste kwarteindstryd-finalis in die Ope-era word. Dit is reeds die 18de keer wat Federer die laaste 16 by Wimbledon haal. Hy vier binne die volgende paar weke sy 40ste verjaardag.

Die sewende gekeurde Matteo Berrettini het slegs die vyfde Italiaanse man geword om die laaste agt te haal na sy oorwinning van 6-4, 6-3 en 6-1 oor Ilya Ivashka van Belarus.

Die wêreld se voorste vrouespeler Ashleigh Barty het haar eerste Wimbledon-kwarteindstryd gehaal nadat sy die Franse Ope-wenner Barbora Krejcikova met 7-5, 6-3 geklop het.

Die 18-jarige Emma Brit het ondanks die feit dat sy 338ste gekeur is, na die tweede week deurgedring en kom teen Australië se Ajla Tomljanovic te staan.

Angelique Kerber kom teen Coco Gauff te staan. Gauff (17) sal poog om die jongste vrou te word om ’n Wimbledon-kwarteindstryd te haal sedert Maria Sharapova dit in 2004 gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.