Jaguars wen uiteindelik die titel ná vierde eindstryd

Renske Stoltz van die Flames en doelskieter van die reeks, links, en die Jaguars se Izette Griesel wat Sondag as speler van die eindstryd aangewys is (Foto: Twitter SA_Netball)

Uiteindelik het die Noord-Gautengse Jaguars dit reggekry.

Nadat hulle drie keer in die eindstryd gespeel het, het hulle Sondag die eindstryd van die Brutalfruit Netbal-premierliga in die Mangaung Binnemuurse Sportsentrum met die vierde probeerslag gewen.

Die Jaguars het in ʼn baie gelykop stryd met 49-43 teen die Flames van Noord-Wes gewen.

Die opwindende wedstryd het deurgaans wipplank gery. Die Jaguars het aanvanklik voorgeloop, maar die Flames het hulle in die tweede kwart ingehaal en verbygesteek.

Die Flames was drie doele voor die Jaguars voordat  die Jaguars hulle weer ingehaal en die telling 14-elk gemaak het.

Die Jaguars het toe weer die voortou geneem en ondanks die Flames se verbete pogings voorgebly. Die Flames se hulpdoel, Renske Stoltz, het ewe kalm doele van enige posisie aangeteken, maar haar bydrae kon uiteindelik nie die deurslag gee nie.

Stoltz is nietemin as die doelskieter van die toernooi aangewys.

Izette Griesel van die Jaguars, wat senter en ook aanvallende vleuel gespeel het, is as speler van die wedstryd aangewys. Sy was grootliks verantwoordelik daarvoor om die bal by die voormalige Protea-doelskieter, Chrisna Botha van Zyl, te kry.

♦  As deel van hulle prys reis die Jaguars op 29 Junie na Nieu-Seeland om aan ʼn nuwe internasionale kompetisie om die Superbeker deel te neem. Klubspanne van oor die netbalspelende wêreld sal aan die kompetisie deelneem.

♦  In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plekke in die liga vas te stel, het Suid-Gauteng se Golden Fireballs die Southern Stings van die Wes-Kaap met 55-45 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.