Japanse Grand Prix bly weer in die slag

Die Japanse Grand Prix is vir die tweede agtereenvolgende jaar afgelas. Foto: Twitter.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het vir die tweede agtereenvolgende jaar ’n stokkie voor die Japanse Grand Prix in Oktober gesteek.

F1 het in ’n verklaring gesê daar word aan ’n hersiene kalender gewerk en die besonderhede sal binnekort bekend gemaak word.

“F1 het in die afgelope twee jaar bewys dat daar oplossings vir die voortdurende onsekerhede gevind kan word en ons is opgewonde oor lande se belangstelling om wedrenne aan te bied.”

Verskeie F1-renjaers, onder wie Ferrari se Carlos Sainz, het op sosiale media hul misnoeë oor die verwikkelinge uitgespreek.

“Dit is een van my gunsteling-renbane en die Japanse ondersteuners is ongelooflik. Ons gaan dit alles baie mis,” het Sainz getwiet.

Organiseerders het darem verlede week bevestig dat die Nederlandse Grand Prix op die Zandvoort-renbaan sal voortgaan.

Daarbenewens sal toeskouers (amper 70% van die baan se aantal sitplekke) toegelaat word om hul plaaslike held, Max Verstappen, te ondersteun.

Die F1-seisoen word amptelik op 29 Augustus in België hervat met Verstappen en Lewis Hamilton wat in ’n verbete stryd om die wêreldtitel gewikkel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.