Jarry laat Alcaraz in Argentinië struikel

Nicolas Jarry het vir Carlos Alcaraz in Argentinië geklop. (Foto: X/Argentinië-ope)

Nicolas Jarry het vir ʼn opskudding in Buenos Aires gesorg toe hy vir Carlos Alcaraz in die halfeindstryd van die Argentinië-ope uitgeskakel het.

Die eindtelling was 7-6 en 6-3 in die 28-jarige speler van Chili se guns. Hy het hoegenaamd nie vir die Spaanse ster teruggestaan nie en hy het veral met sy kragspel beïndruk.

“Carlos is een van die beste spelers ter wêreld en hierdie oorwinning beteken baie vir my; dit was ʼn fisieke stryd gewees,” het Jarry gesê.

“Ek het glad nie goed begin nie en kon kwalik punte van sy afslane aanteken, maar ek is baie tevrede met my veggees.”

Hy speel later vandag in die eindstryd teen Argentinië se Facundo Diaz Acosta.

Vir Alcaraz moet die nederlaag ʼn bitter pil wees om te sluk. In die nege toernooie sedert sy triomf op Wimbledon kon hy nie een keer weer die silwerware omhoog hou nie.

“Die nederlaag maak baie seer. Daar is baie ruimte vir verbetering en ek sal beter moet speel. Ek het soms goeie tennis gespeel, maar ek is glad nie op my beste nie,” het die wêreld se naasbeste speler gesê.

Volgens die 20-jarige Spanjaard sal hy moet leer om die wedstrydomstandighede beter te lees – hy kan nie elke liewe opponent met sy kragspel oordonder nie.

“Ek was vandag nie op my beste in druksituasies nie. Wanneer die telling 0-30 is, kon ek nie my spel lig om terug te baklei nie.”

Sinner deur na Rotterdam-eindstryd

Jannik Sinner het vir die eindstryd van die ATP-toernooi in Rotterdam gekwalifiseer toe hy vir Tallon Griekspoor met 6-2 en 6-4 geklop het.

Hy sal in die eindstryd teen Australië se Alex de Minaur speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.