Jenny trek plaaslike en oorsese talent nader

(Foto: X/Netball SA)

Die Protea-netbalspan se voorbereidingswerk vir die 2027-Wêreldbekertoernooi moet so gou moontlik begin en die nuwe afrigter, Jenny van Dyk, het haar eerste groep met die oog op die internasionale netbalskouspel gekies.

Van Dyk het plaaslike talent, asook spelers wat hul vaardighede in oorsese ligas uitstal, nadergetrek.

“Ons is deeglik bewus daarvan dat ons nie net met ʼn span se vormingsproses te doen het nie, maar ons koester ook drome saam met die spelers. Elke speler is oorgehaal om haar beste op die baan te lewer,” het sy gesê.

Bekendes soos Ine-Marí Venter, Karla Pretoria, Elmeré van der Berg en Nichole Taljaard is deel van die groep, terwyl Ané Retief (Free State Crinums) en Kamogelo Maseko (Gauteng Jaguars) ook ʼn kans sal kry.

Oudafrigter Norma Plummer het haar spelers weer ʼn rede gegee om in hul vermoëns op die baan te glo – die Proteas neem as’t ware nie meer net aan toernooie deel nie, maar hulle is ook goed genoeg om wedstryde te wen.

Volgens Van Dyk is een van haar grootste doelwitte juis om op dié grondslag voort te bou.

“Ons moet ʼn wenkultuur en ʼn goeie netbalidentiteit vestig. Ek glo dat ons goed genoeg is om mededingende en wennetbal te speel.”

Daar wag volgende maand ʼn belyningskamp op die spelers, terwyl wedstryde teen Malawi in Augustus op die spyskaart is.

Protea-groep: Ine-Marí Venter, Rolene Streutker, Elmeré van der Berg, Kamogelo Maseko, Owethu Ngubane, Nichole Taljaard, Khanyisa Chawane, Refiloe Nketsa, Tarle Mathe, Jeante Strydom, Jamie van Wyk, Boitumelo Mahloko, Karla Pretorius, Nicola Smith en Ané Retief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.