Jong Alcaraz wil lesse uit nederlaag leer

Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Hy mag dalk net 19 jaar oud wees, maar Carlos Alcaraz begin reeds die jargon van meer ervare sportsterre aanleer.

Kort ná sy nederlaag van 7-5 en 6-3 teen België se David Goffin in Kasakstan, het die Spaanse tiener gesê dat hy “lesse” uit die wedstryd sal leer.

“David het al in baie wedstryde gespeel en hy beskik oor emmersvol ervaring. Hy het nou beter tennis as ek gespeel en hy was baie aggressief,” het Alcaraz gesê.

“Hy het my onder druk geplaas en ek het gesukkel om dit te hanteer. Dit is iets wat ek nog moet aanleer en ek hoop om lesse uit hierdie vertoning te leer.”

Alcaraz het ná sy Amerikaanse Ope-triomf die jongste speler nóg geword om die eerste plek op die ATP-ranglys te beklee.

Die Goffin-nederlaag is egter ʼn wekroep – net soos die Spaanse armada van ouds nie elke keer in gunstige toestande geseil het nie, so gaan Alcaraz ook nie noodwendig alles op ʼn skinkbord kry nie; selfs al is hy deksels goed.

Tog was dit die eerste keer in 63 wedstryde dat hy in skoon stelle verloor het.

“Dit was ʼn moeilike wedstryd en dit is nooit maklik om jou eerste wedstryd ná ʼn kort onderbreking te speel nie. Boonop het die baan vinnige spel bemoeilik en my selfvertroue het ʼn knou gekry.”

Alcaraz speel weer op 24 Okterber in Switserland.

  • Die jongste wêreldno. 1-spelers:
  1. Carlos Alcaraz 19 jaar en vier maande
  2. Lleyton Hewitt 20 jaar en nege maande
  3. Marat Safin 20 jaar en 10 maande
  4. John McEnroe 21 jaar en 1 maand
  5. Andy Roddick 21 jaar en 2 maande

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.