Jong atlete klim na sukses

Rock Valley Climbing se talentvolle lede. Foto: Verskaf.

Dit is vroeg op ’n Vrydagmiddag en die jong sterre van Rock Valley Climbing (RVC) in Centurion is reeds hard aan’t oefen.

Wanneer die meeste van ons aan muur- of rotsklim dink, sien ons waarskynlik ’n langhaar Tom Cruise in ons geestesoog; hy het immers in Mission Impossible 2 so van die een rotslysie na die ander rondgeswaai.

Maar in Centurion is daar g’n teken van ’n Hollywood-regisseur se gebruiklike fieterjasies nie. By hierdie binnenshuise muurklimklub word daar op deursettingsvermoë en harde werk staatgemaak; nie op rekenaartoertjies nie.

Muurklim is vinnig besig om een van die gewildste sportsoorte onder jong mense te word en ’n mens kan verstaan waarom: Dit is nie net goed vir jou fiksheid en spierkrag nie, maar ook vir jou konsentrasie- en probleemoplossingvermoë.

RVC se vertoonkas is ongetwyfeld besig om uit sy nate te bars. By die afgelope provinsiale kampioenskap het die klub 15 medaljes ingeoes.

Sodoende het ’n rits van sy lede – Anton Redelinghuys (o.13), Tiffany Bouwer (o.13), Caitlin Bouwer (0.13), Darius Schutte (o.15), Jordan Purdy (o.17), Taylor Purdy (o.15), Jenna Davis (o.19), Nic van den Berg (ope-kategorie) en Daniel de Roubaix (ope-kategorie) – vir die komende nasionale kampioenskap in Kaapstad gekwalifiseer.

’n Goeie vertoning in die Kaap kan vir jou ’n vliegkaartjie na die wêreldkampioenskap in die VSA bespreek, terwyl ranglyspunte vir die 2024 Olimpiese Spele ook bymekaargemaak word.

“Hulle oefen ongelooflik hard saam met hul afrigters – minstens vier keer per week –  om hul doelwit te bereik; hulle wil die beste in hul gekose sportsoort wees,” sê RVC se Carmen Bouwer.

Die klimmers is oorgehaal om ’n sukses van hul Kaapse avontuur te maak en hulle werk onder meer as kelners om met die reis- en verblyfkoste te help. ʼn Backabuddy-blad is ook geskep.

“Weens Covid-19-regulasies is dit die eerste keer sedert 2019 wat ’n nasionale kampioenskap aangebied word. Destyds het een van ons lede vir die nasionale skouspel gekwalifiseer, nou spog ons met nege deelnemers!”

Indien jy belangstel om ’n finansiële bydrae te maak, klik hier om in verbinding met die klub te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.