Jong fietsryer op herstelpad ná ongeluk

Gustav Basson se kenmerkende glimlag. Foto: Facebook.

Gustav Basson se fietsryloopbaan het ’n definitiewe opwaartse kurwe getoon.

Die 23-jarige ryer het in Junie die Challenge International du Sahara Marocain in Noord-Afrika gewen, terwyl hy ook ’n gereelde gesig op Suid-Afrikaanse en ander internasionale podiums was.

“Ja, ek was al baie moedeloos in my loopbaan. Maar as dit nie vir die moeilike tye in jou fietsryloopbaan is nie, waardeer jy nie die goeie oomblikke so baie nie,” het hy in ’n vroeëre onderhoud aan Maroela Media gesê.

Hy was egter ’n paar weke gelede op pad huiswaarts van ’n restaurant, toe ’n motor van agter teen sy voertuig vasgery het.

Basson het sy femur gebreek en is na die hospitaal gehaas, waar hy ’n operasie ondergaan het.

Hy het egter daarna ernstige komplikasies met sy longe ondervind en hy was vir 14 dae onder verdowing.

“Ek was baie siek gewees en volgens die medici was ek gelukkig om volkome te herstel. Ek was vir vier of vyf dae ná die tyd nog baie deurmekaar, maar daarna was ek binne ’n oogwink gesond. Ek is baie dankbaar jeens God vir sy genade in hierdie tydperk,” het Basson aan Maroela Media gesê.

Eerste oor die wenstreep Foto: Facebook.

Hy droom steeds daarvan om sy stempel op ’n permanente grondslag in Europa af te druk en sy vuur en vasberadenheid is nog lank nie geblus nie.

“Ek is dankbaar dat ek nog lewe en tyd saam met my mense kan deurbring terwyl ek my bes doen om al my doelwitte te bereik.”

“Dit gaan ’n lang rehabilitasieprogram wees om weer op die fiets te klim, maar ek kan darem steeds my droom jaag.”

Nes vroeër sal die talentvolle Basson steeds wil wen, maar die feit dat hy weer op sy ysterperd kan klim, is egter die grootste oorwinning van sy loopbaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Staan op !!! jong man jy kan ! Doen met geloof !!
Alles met rede om jou sterker te maak vir jou toekoms :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.