Jong fietsryer wil speke van sukses laat sing

Gustav Basson vier ’n oorwinning. Foto: Facebook.

Gustav Basson is pas terug in Suid-Afrika nadat hy twee weke lank in Noord-Afrika fietsgery het. Die 23-jarige atleet het in die bloedige woestynson die Challenge International du Sahara Marocain gewen.

Hier in sy geboorteland was hy al onder meer eerste oor die wenstreep in die Mpumalanga Padkampioenskap, die Tour Durban-, sowel as by die Tour de Limpopo-wedren. Verder het hy ook al sukses in plaaslike bergfietswedrenne, soos die Alzu Tour de Farm, gesmaak.

Tog is die roete na padfietssukses – veral in die buiteland – nie altyd die maklikste nie. En jou wiele moet dikwels eers ’n paar eensame en bulterige kronkelpaaie aanpak voordat jou speke op die hoofweg van geeltruie en lourierkranse kan sing.

“My fietsryloopbaan het pas begin en ek het nog ’n lang pad om te stap,” het Basson Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Dit is moeilik om naam in Europa te maak, sê hy. Waar daar in Suid-Afrika 30 deelnemers in ’n groot wedren is wat moontlik met die louere kan wegstap, is daar in Europa 180 potensiële wenners in ’n wedren.

“Ja, ek was al baie moedeloos in my loopbaan. Maar as dit nie vir die moeilike tye in jou fietsryloopbaan is nie, waardeer jy nie die goeie oomblikke so baie nie,” sê hy.

“Finansies is ongetwyfeld die grootste uitdaging wat ʼn mens in Europa in die gesig staar. Geld groei beslis nie aan bome nie en jy het dit nodig om aan wedrenne deel te neem. Dan is jy ver van jou familie, vriende en verhouding; jy is baie kere ongelooflik eensaam, maar jy is daar om ’n droom te jaag.

“Daar is soveel dinge wat teen jou tel, maar jy vind ’n manier om bó uit te kom. Dit is egter ’n tydsame proses en jy moet dit só aanvaar,” sê Basson.

Tog het hy al sukses daar gesmaak en hy was die eerste o.23-ryer oor die wenstreep in die Paris-Roubaix-wedren. Hy droom nou om eendag die senior wedren ook te wen.

“Maar sjoe, die Paris-Roubaix is uitputtend,” sê hy laggend.

“Ek het al aan wedrenne deelgeneem waar ek nie baie fiks was nie, maar ek was op my stukke daar en dit was kliphard. Die toer eis sy tol op jou liggaam en letterlik alles is ná die afloop van die wedren seer. Ek sal dit egter enige tyd weer doen!”

Het hy al geval?

“Baie kere,” is sy onmiddellike antwoord. “Jy ry in ’n peloton saam met tot 180 ryers en as een van hulle net die wiel van ’n ander deelnemer skrams tref, dan is dit soos die domino-effek en jy val maar saam.”

“As jy egter nie bereid is om te val nie, dan is jy ook nie bereid om kanse te waag nie; jy móét in die fietsrywêreld waag om te wen.”

En Gustav Basson wíl wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.