Jong Kanadees skok Serena Williams in eindstryd

Bianca Andreescu. Foto: (AP Photo/Charles Krupa)

Die Kanadese sensasie Bianca Andreescu het die 37-jarige Amerikaner Serena Williams se planne laat ontspoor om tennisgeskiedenis te maak toe sy haar vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in die eindstryd van die vroue-afdeling van die Amerikaanse Ope in New York met 6 – 3, 7 – 5 geskok het.

Dit was die eerste keer dat die 19-jarige Andreescu, wat 15de gekeur was, in die hoofloting was en sy het ook die eerste Kanadees geword wat ʼn Grand Slam-toernooi kon wen.

Andreescu is nou ook die jongste Grand Slam-wenner sedert die jong Rus Maria Sharapova die titel in 2006 verower het.

Williams, wat op koers was om Margaret Court se rekordgetal van 24 Grand Slam-oorwinnings te ewenaar, was gespanne, hoewel die duisende toeskouers haar aangespoor het.

Andreescu, wat in ʼn stadium haar vingers in haar ore gedruk het om die toeskouers se ondersteuning van Williams te demp, het in die eerste stel vyf keer op Williams se afslaan deurgebreek om die stel te beklink.

In die tweede stel het Williams teruggeveg.

Serena Williams. Foto: (AP Photo/Adam Hunger)

Andreescu het kalm gebly en hoewel Williams twee wedstrydpunte afgeweer het, het Andreescu op ʼn derde wedstrydpunt met ʼn voorarmhou langs die lyn af die stel beklink.

Williams, wat nou in vier Grand Slam-eindstryde sedert 2017 ná die geboorte van haar kind verslaan is, het nege kishoue geslaan, maar ook agt dubbelfoute begaan. Sy het 33 wenhoue geslaan, maar ook 33 ongedwonge foute begaan.

Andreescu het net vyf kishoue geslaan, maar slegs drie dubbelfoute begaan. Sy het net 19 wenhoue geslaan en slegs 19 ongedwonge foute begaan.

Na haar oorwinning het Andreescu haar raket laat val en is sy deur Williams gelukgewens. Sy het uitgestrek op die baan neergesak om haar prestasie te laat insink.

Sy het opgestaan, vir ʼn trapleertjie gevra om haar ondersteuningspan en haar Roemeense ouers, Nicu en Maria, wat in die tagtigerjare van die vorige eeu na Kanada geëmigreer het, in die spelerslosie te gaan omhels.

Wie sou kon glo dat Andreescu, wat slegs 12 maande gelede in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope vasgeval het en nie die top‑200 op die wêreldranglys kon haal nie, soveel vordering binne 12 maande sou kon toon?

Nou sal sy tot vyfde op die ranglys opskuif en het sy ʼn wennerstjek van sowat R57 miljoen ($3.85 m) ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Melanie ·

Dit wys net wat kan gebeur wanneer mens koelkop bly. Baie geluk jonge dame!

Tracy ·

So bly vir haar part. In die semi-finaal gesien hoe groot haar deursettings vermoë is. Williams kan maar dink aan aftree. Sy is nie meer die groot faktor in tennis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.