Jong medaljewenner (13) se merkwaardige prestasie

Sky Brown. Foto: Loic Venance/AFP.

Skaars twee jaar gelede is Sky Brown ernstig beseer toe sy met haar skaatsplank tydens ’n oefensessie geval het. Die 13-jarige sportster het onder meer ’n skedelbreuk opgedoen, terwyl sy ook haar hand gebreek het.

Vandag het sy egter op die Olimpiese podium gestaan; haar bronsmedaljepoging maak haar die jongste Brit in die geskiedenis om ’n medalje by die internasionale skouspel in te oes.

En as daar nou ooit vir jou ’n sportsoort is waar ’n mens met sekerheid kan sê dat sy toekoms in goeie hande is, dan moet dit die skaatsplank-storie wees.

Want die 19-jarige Sakura Yosozumi van Japan het die goue medalje in Tokio gewen, terwyl ’n talentvolle 12-jarige Kokona Hiraki ook saam met Brown op die podium gestaan het.

Japan se Kokona Hiraki. Foto: Loic Venance/AFP.

Sodoende het Hiraki die jongste atleet in 85 jaar geword om ’n medalje by die Spele te in te oes.

Tog sorg Brown se verhaal vir indrukwekkende leesstof.

Sy het op agtjarige ouderdom begin skaats en het in 2018 vir die eerste keer in die kleure van Groot-Brittanje deelgeneem.

En ná so ’n groot ongeluk sou selfs ’n geharde sportman sy loopbaan in oënskou geneem het.  Volgens berigte het Brown se valhelm haar lewe gered en sy is aangeraai om die sport vaarwel te roep.

Maar sy was oorgehaal vir sukses en ’n kort rukkie ná die voorval het sy op sosiale media geskryf dat sy nou sterker en taaier as ooit vantevore is.

“Ek onthou hoe my ouers vir my gesê het ek iets anders moet begin doen. Maar ek is ongelooflik dankbaar om vandag hier te wees en ek kan nie wag om my medalje vir my familie en vriende te wys nie” het sy gesê.

Volgens Brown wil sy ander meisies inspireer, want as jy in jouself glo kan jy enigiets vermag.

“Enigiemand kan op ’n skaatsplank ry; jy hoef nie ’n sekere ouderdom, gewig of lengte te wees nie. Jy moet dit net doodeenvoudig doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

gpsa ·

Hoekom Tokyo 2020? seker dom vraag maar verstaan nie hoekom dit nie 2021 wys nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.