Jong Protea-netbalspeler tweede by internasionale modelkompetisie

Die mooie en talentvolle Danielle van Zyl. Foto: Reg Caldecott.

’n Meisie van vele talente is hoe ʼn mens Tukkies se Danielle van Zyl kan beskryf. Verlede jaar het sy die o. 21-Proteas op die netbalbaan verteenwoordig, terwyl sy onlangs haar beste voetjie by die negende Supermodel International-kompetisie in Thailand voorgesit het. O ja, sy het tweede by dié kompetisie geëindig!

En om al haar prestasies te kroon, beplan sy om binnekort as ’n neurosielkundige te werk.

“Die belangrikste op my prioriteitslys is my studies en dán netbal. Om ’n model te wees, is soort van ’n stokperdjie vir my,” het sy gesê.

Tog vertel dié self-erkende introvert dat modelwerk baie met haar selfvertroue gehelp het.

Foto: Reg Caledcott.

“Jy kan nie ’n model wees en nie gemaklik met jouself wees nie. Jy moet bereid wees om ’n produk te verkoop terwyl die kameras op jou is.”

Volgens Van Zyl het haar tyd by die Vogue-modelskool haar perspektief jeens modelwerk verander, terwyl Valerie Begbie met haar selfvertroue gehelp het.

Die afgelope kompetisie in Thailand is iets wat sy nie sommer sal vergeet nie.

“Thailand se inwoners is ongelooflik – hulle is só nederig. Wat my veral beïndruk het, is die respek wat hulle vir ander mense het; hulle kon letterlik nie genoeg vir ons doen nie.”

Haar toekomsdrome sluit aksie op die netbalbaan vir die senior Proteas in, sowel as moontlike deelname aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.

“Vanuit ’n suiwer modeloogpunt frons mense gereeld wanneer hulle hoor ek speel ook netbal, maar dit is vir my baie belangrik om ’n gesonde balans te handhaaf.

“Ek sal nooit nét ’n model of nét ’n netbalspeler wees nie, want ek is mal oor albei dissiplines.”

Volgende op Van Zyl se netbalkalender is die Telkom-reeks en sy wil graag fiks genoeg wees om vir die Jaguares uit te draf.

En met die uitdunne om die draai, kan jy maar weet dat sy ook haar beste voetjie op die baan sal voorsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gato

Aitsa. Pragtig en sportief.