Jong SA’ner skitter by Aussie Ope vir Juniors

Philip Henning. Foto: BLD/ANA

Die 17-jarige Philip Henning van Bloemfontein in die Vrystaat het die derde ronde van die Australiese Ope vir Juniors gehaal.

Henning, ʼn leerder aan Grey-kollege, het Thiago Seyboth Wild van Brasilië met 6-4, 6-4 in die tweede ronde geklop. Seyboth Wild is agtste op die jongste ranglys en was die negende gekeurde by die toernooi.

Henning het George Loffhagen van Brittanje met 7-6 (5) en 7-5 geklop in die eerste ronde. Loffhagen is 24ste op die ranglys. Henning het voor die Australiese Ope in die Traralgon-toernooi met Nicolas Mejia van Colombia afgereken.

“Ek kan nie glo ek is in die derde ronde van die Australiese Ope vir Juniors nie,” het ʼn duidelik verheugde Henning gesê. “Dit was nog altyd my droom om in ʼn Grand Slam-toernooi te speel en die droom is nou ʼn werklikheid.”

Henning kom Woensdag in die derde ronde teen die sewende gekeurde Sebastian Korda van Amerika te staan. Henning speel ook in die dubbelspel saam met Andrew Paulson van die Tsjeggiese Republiek.

Suid-Afrika se enigste ander deelnemer aan die Australiese Ope vir Juniors, Myah Petchey van Kaapstad, is in die eerste ronde uitgeskakel nadat sy deur Nicole Mossmer van Amerika geklop is.

Twee gewese Suid-Afrikaanse beroepspelers, Wayne Ferreira en Jeff Coetzee, het Henning in Melbourne in aksie gesien en is beïndruk met sy spel. “Philip is een van die beste junior spelers wat Suid-Afrika in ʼn lang ruk opgelewer het,” het Coetzee gesê.

Henning het verlede jaar sy buiging in die Australiese Ope vir Juniors gemaak en is in die eerste ronde uitgeskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.