Jordy kan tas (en branderplank) vir Spele pak

Jordy Smith in aksie. Foto: Trevor Moran/ Red Bull Content Pool.

Hy is al die beste Suid-Afrikaanse branderplankryer van die moderne era genoem. En nou kry Jordy Smith ook die unieke geleentheid om sy stempel by die Olimpiese Spele af te druk.

Die 33-jarige Suid-Afrikaner sal saam met 18 ander internasionale branderplankry-sterre hul Olimpiese buiging in Tokio maak.

Volgens die World Surf League (WSL) se amptelike webwerf is Smith tans die derde beste branderplankryer ter wêreld. En hy is oorgehaal vir Olimpiese aksie.

“Ek het nooit oor die Olimpiese Spele gedroom nie, want dit was nooit ’n werklikheid vir branderplankryers nie. Maar nou dat dinge amptelik is, is dit ’n ongelooflike voorreg om jou land te verteenwoordig,” het Smith destyds op Kfm gesê.

Foto: Tyrone Bradley/Red Bull Content Pool.

Die feit dat die groot skouspel weens die wêreldwye Covid-19-pandemie uitgestel is, pla hom klaarblyklik nie veel nie. Hy meen trouens dat dit sy voorbereidingswerk ’n hupstoot gegee het.

Die perfekte branderplank vir die Tokio-aanslag is gekies, terwyl deelname aan verskeie kompetisies gesorg het dat hy – veral wat vaardigheid en mededingendheid betref – slaggereed is.

Terselfdertyd is hy ook maar al te bewus van sy plig as rolmodel.

“Vir my is die belangrikste ding om iemand te inspireer en om ’n positiewe verskil in hul lewe te maak. As jy dit kan doen, het jy jouself goed van jou taak gekwyt.”

Smith het al vantevore sukses op die groot verhoog gesmaak: Hy was onder meer al ’n juniorwêreldkampioen en wenner van die Hurley Pro-kompetisie. Meer onlangs het hy op die podium van ’n paar internasionale Quiksilver- en Rip Curl-kompetisies gestaan.

Maar vir die Spele is sy raad aan homself eenvoudig: “Jy moet in jouself glo, jou beste voet voorsit en net pleinweg jou alles gee.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Branderry ‘n Olimpiese Sport. Waar is die dae toe atletiek (hardloop) die enigste sport was. Lank voor my tyd. Een van die dae lyk dit vir my gaan kletsrym, boomklim, vêrspoeg en onderwater valskermspring ook ingesluit word. Genade waar gaan dit eindig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.