Jy takel nie vir Tyson sonder handskoene

Mike Tyson. Foto: Twitter.

Mike Tyson is klaarblyklik op soek na ’n waardige boksteenstander om sy terugkeer na die kryt te vier; nie sommer enige hierjy nie.

Die legendariese swaargewig-bokskampioen, wat op 53-jarige ouderdom weer sy terugkeer na die bokskryt beplan, is onlangs $18 miljoen vir ’n Bare Knuckle Fighting Championship- (BKFC-)geveg aangebied.

Maar Tyson se afrigter, Rafael Cordeiro, het laat weet dat “Iron Mike” nie sy kneukels sal vuilmaak om vir Wanderlei Silva in ’n BKFC-geveg aan te vat nie.

Silva is ’n bekende in die gemengdegevegskuns-kringe en een van die bestes in sy sport, maar sy indrukwekkende getuigskrif beïndruk Tyson duidelik nie veel nie.

Hoewel die “Baddest Man on the Planet” meer as tien jaar gelede in ’n professionele boksgeveg was – toe Kevin McBride hom in 2006 uitgeslaan het – is selfs sy grootste kritici verstom oor sy vaardigheids- en fiksheidsvlakke.

Hy laai gereeld video’s van homself op sosiale media waar hy oefen en dit lyk asof hy veel jonger boksers ’n ding of twee kan wys.

Hy het onlangs selfs vir die uiters talentvolle UFC-atleet, Henry Cejudo, ’n paar vuishoulesse gegee.

“Ek het aanvanklik nie geweet wat om te verwag nie; hy het immers seker tien jaar gelede met iemand geskerm. Maar jy kon my met ’n veertjie omtik toe ons begin het; ek het ’n ou gesien wat met dieselfde krag en spoed as ’n 21-jarige boks,” het Cordeiro ná een van hul oefensessies gesê.

“Jy moet jou storie ken om saam met hom te oefen. As jy nie goed voorberei nie, sal hy jou beslis uitslaan.”

Een van Tyson se grootste teenstanders, die Brit Evander Holyfield, beplan op 57-jarige ouderdom ook sy terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Maar dis sal dan goed wees om die twee oupa’s in die kryt te sit.
Hou rondtes net 60 sekondes om hulle darem tyd te gee om die looprame en vals tande te bêre.

Nee ek grap nou, ek sal nie teen een van die twee in die kryt wou staan nie, ek is te lief vir my gesig.

Raakvatter

Maar veronderstel hulle boks tog die twee. Dit sal ek nie vir enige iets mis nie.

Schalk

Ha ha ek sal hom nie takel MET handskoene nie ! Ek hoop Mike maak ‘n groot terugkeer.