Kaapstad-fietstoer kry ook virtuele baadjies

Foto: Twitter.

Die gewilde Kaapstad-fietstoer is weliswaar na ’n latere datum weens die Covid-19-pandemie uitgestel, maar dit beteken nie dat die speke steeds Maartmaand kan sing nie.

Organiseerders het bevestig dat daar intussen twee virtuele wedrenne aangebied sal word.

  • The Cape Town Cycle Tour 109-for-109 Charity Challenge:

Deelnemers kan Maandag (8 Februarie 2021) by www.capetowncycletour.com inskryf. Al wat jy moet doen, is om iewers gedurende Maart 109 km (of verder) op jou ysterperd kaf te draf.

Strava sal gebruik word om deelnemers se vordering dop te hou en ’n virtuele medalje sal oorhandig word.

Inskrywingsgeld beloop R109 en die wedren sal ten bate van die Cape Town Cycle Tour Trust wees.

  • Die amptelike virtuele wedren van die Kaapstad-fietstoer:

Die aksie sal van 8 tot 14 Maart plaasvind en dit sal van die FulGaz Virtual Cycling-platform gebruik maak.

Die wedren sal in drie skofte gedeel word om die tradisionele roete van 109 km doeltreffend vas te vang. En te danke aan hedendaagse tegnologie kan deelnemers die prag van die Kaap sommer in hul eie huise geniet en waardeer.

Deelnemers mag elke skof soveel keer as wat hulle wil aanpak en die punteleer sal gereeld hersien word.

Inskrywings open op 15 Februarie 2021 by www.capetowncycletour.com.

  • Intussen het die organiseerders van die Twee Oseane-marathon Donderdag bevestig dat die byeenkoms vir 2021 gekanselleer is.

“Ons het onder koronavirusvlak 3 van die Rampbestuurwet voortgegaan met beplanning vir die Twee Oseane-marathon 2021 in verskillende formate en verminderde getalle volgens die beste praktyk wat die veiligheid van ons deelnemers sou verseker,” het die organiseerders in ʼn verklaring gesê.

“Ons was deurlopend in gesprek met ons aandeelhouers, Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Westelike Provinsie Atletiek (WPA), en ons mediese span om die beste pad vorentoe te bepaal. Gelei deur aanbevelings van die mediese span en die hoof- mediese beampte van die Twee Oseane-marathon, dr. Adrian Rotunno, is ons egter jammer om aan te kondig dat die Twee Oseane-marathon, wat op 3 April 2021 sou plaasvind, gekanselleer moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.