Kaapstad gaan ’n driekamp aanbied!

Kaapstad gaan op 10 November ’n driekampbyeenkoms aanbied. Foto: Facebook.

Begin solank oefen en bespreek nou al jou vliegtuigkaartjie Kaap toe, want op 10 November gaan Kaapstad sy eerste middelafstand-driekampkompetisie aanbied.

Boonop sal daar ook verskeie internasionale atlete in aksie wees.

Die stad ontluik in Suid-Afrika se sportmekka – die SA muurbalkampioenskap is onlangs daar aangebied, dit sal gasheer vir die groot Rafael Nadal/Roger Federer- vriendskaplike tennisstryd wees en in 2023 sal die Wêreldbeker-netbaltoernooi daar gehuisves word.

Die Challenge Cape Town-driekampbyeenkoms sal uit ’n swemafdeling van 1,9 km in Big Bay bestaan, asook ’n fietsroete van 90 km al langs die Kaapse kus af, terwyl die drafsessie van 21 km in die Zonnebloem/Distrik Ses-buurte voltooi sal word.

Dit sal een van slegs ’n paar bestemming-na-bestemming-byeenkomste in die land wees, waar die begin en die einde op twee verskillende plekke is.

Dan Plato, burgemeester, het gesê die stad is trots om nóg ’n internasionale sportskouspel deel van die stad se kalender te maak.

“Dit is ’n nuutjie vir Kaapstad en die Challenge Cape Town sal die stad se reputasie verder gestand doen as Afrika se byeenkomste-hoofstad,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae