Kan Novak vanjaar al vier Grand Slams wen?

Novak Djokovic. Foto: Christophe Archambault/AFP.

Ná sy heldedade die afgelope naweek teen ’n uitstekende Stefanos Tsitsipas in die eindstryd van die Franse Ope, het Novak Djokovic vanjaar reeds die septer in al twee voltooide eindstryde van die 2021-Grand Slam-seisoen geswaai.

Hy het vroeër vanjaar ook sy negende Australiese Ope-titel in Melbourne ingeoes toe hy vir Daniil Medvedev in drie stelle getroef het.

Om dus die groot Romeinse generaal Julius Caesar (effens verkeerdelik) aan te haal: Djokovic het by hierdie twee toernooie opgedaag, sy teenstanders uitgekyk en uiteindelik as oorwinnaar van die baan gestap.

Met twee Grand Slam-titels reeds in die sakkie, wat keer hom dan om ook amok by Wimbledon en die Amerikaanse Ope te maak?

Gooi daarby ’n moontlike Olimpiese goue medalje en Novak Djokovic sal so te sê ’n perfekte tennisjaar hê.

“Enigiets is moontlik en ek is in ’n uitstekende posisie om al vier Grand Slams te wen,” het Djokovic gesê.

’n Manspeler kon die prestasie nog nooit vermag nie, terwyl Steffi Graf in 1988 die enigste speler geword het om die Australiese Ope, Franse Ope, Wimbledon, Amerikaanse Ope en die Olimpiese Spele te wen.

Djokovic hou egter daarvan om rekords agter sy naam neer te pen en volgens sy afrigter, Marian Vajda, is sukses in die oorblywende toernooie in die sterspeler se visier.

Novak Djokovic. Foto: Valery Hache/AFP.

“Dit is ongetwyfeld ons doelwit om die toernooie te wen. Daar moet egter nog baie water in die see loop en ons kan nie nou al aan die einde van die jaar dink nie,” het Vajda gesê.

As jy na sy huidige spelpeil kyk, is die 34-jarige Serwiër op koers om Rafael Nadal en Roger Federer se rekord van 20 Grand Slam-titels te verbeter. Daarbenewens is hy nou ook al langer as 320 weke die wêreld se voorste speler.

In die afgelope tien jaar het Djokovic ook boonop meer groot titels (18) as Federer en Nadal (15) sáám ingeoes.

As ’n mens dus uitsluitlik na die hoeveelheid silwerware in die vertoonkas kyk, is Novak Djokovic ongetwyfeld die beste tennisspeler van die afgelope tien jaar.

  • Novak Djokovic se titels sedert 2011:

Australiese Ope (2011, 2012, 2013, 2015, 2016, 2019, 2020 en 2021); Franse Ope (2016 en 2021), Wimbledon (2011, 2014, 2015, 2018 en 2019) en Amerikaanse Ope (2011, 2015 en 2018).

  • Rafael Nadal se titels sedert 2011:

Franse Ope (2011, 2012, 2013, 2014, 2017, 2018, 2019 en 2020); Amerikaanse Ope (2013, 2017 en 2019).

  • Roger Federer se titels sedert 2011:

Australiese Ope (2017 en 2018); Wimbledon (2012 en 2017).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.