Kanovaart: Die wêreld se kano-konings is SA’ners

Hank McGregor. Foto: Anthony Grote/Gameplan Media/ANA

Suid-Afrika se Andy Birkett en Hank McGregor het Sondag die K2-wêreldtitel by die Wêreldkampioenskap-marathon gewen.

Andy Birkett het daarmee ook sy droom verdubbel nadat hy vroeër ook die goue medalje in die K1-afdeling gewen. Die byeenkoms is van 6 tot 9 September by Prado Vila Verde in Portugal aangebied.

Die twee Durbaniete het die 30 km-wedren op die Cavada-rivier gewen nadat hulle oor die laaste 1 000 m die krane oopgedraai het en die Hongare (Adrián Boros en László Solti) behoorlik op hul neus laat kyk het. In ʼn ongewone skuif het Birkett voor in die kano gesit en McGregor het agter gesit.

McGregor het die goue medalje in die K1-kompetisie al 7 keer gewen en in die K2-spankompetisie was hy al 3 keer aan die wenkant. Hierdie was dus Hank se 11de wêreldtitel.

Andy Birkett. Foto: Anthony Grote/Gameplan Media/ANA

Mans K2-afdeling:

1 Andy Birkett/Hank McGregor (RSA)

2 Adrián Boros/László Solti (Hon)

3 Miguel Llorens/Luis Pérez (Spa)

10 Stuart McClaren/Kenneth Rice (RSA)

Die K1-afdeling is Saterdag afgehandel en Suid Afrika het ʼn eerste en derde plek verower. Soos vroeër genoem het Andy Birkett goud gewen met nog ʼn Suid-Afrikaner, Jasper Mocke, in die derde plek.

Hayley Nixon en Christie Mackenzie was 4de in die K2-vrouekompetisie.

Vroue K2-afdeling

1 Renáta Csay/Zsófia Czellai-Voros (Hon)

2 Eva Barrios/ Amaia Osaba (Spa)

3 Tania Alvarez/Tania Fernandez (Spa)

4 Hayley Nixon/Christie Mackenzie (RSA)

Die jonger kanovaarders het ook goed gedoen. Nickolas Notten het ʼn bronsmedalje in die mans o.23 se K1-wedvaart behaal. Caitlin McKenzie was vierde onder die junior vroue. Hamish Mackenzie en David Evans het op hul beurt brons gewen in die K2-afdeling vir junior mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Dankie manne. Julle gee ons rede om trots te wees oor iets.

Pieter ·

Een sportsoort waarin SA werklik goed is! Geluk manne. Wys dit op televisie. asb. Los die sporte waarin ons sewende is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.