Kaptein Bongi groet netbal

Bongi Msomi. (Foto: Twitter/Netball SA)

Die einde van ʼn era in Suid-Afrikaanse netbal het aangebreek: Bongi Msomi het haar uittrede aangekondig.

Die 35-jarige speler het onder meer in vier Wêreldbeker-toernooie vir die Proteas gespeel, terwyl sy ook die kapteinskapleisels vasgevat het.

Sy was in 171 wedstryde vir Suid-Afrika in aksie nadat sy as ʼn opkomende 23-jarige ster haar internasionale buiging in 2011 gemaak het.

Msomi het ook oorsee ondervinding saam met die Adelaide Thunderbirds in Australië en die Surrey Storm in Engeland opgedoen.

“Ek het deeglik nagedink oor my besluit om uit te tree en ek is baie dankbaar om die aankondiging te maak met die wete dat netbal in Suid-Afrika gesond is,” het sy gesê.

Sy het voortgegaan om al haar spanmaats en afrigters vir hul ondersteuning in haar loopbaan te bedank, maar sy het veral ʼn sagte plek vir Norma Plummer in haar hart.

Die 79-jarige Australiër het juis onlangs ook haar internasionale afrigtersfluitjie vir oulaas weggebêre nadat sy vir twee sessies aan die stuur van die Proteas was.

“Ek dink Norma verdien ʼn spesiale woord van dank – sy is iemand wat bereid was om baie tyd weg van haar huis deur te bring om ʼn groot verskil in Suid-Afrikaanse netbal te maak. Sy het my tot groter hoogtes geïnspireer en my aangemoedig om my heel beste op die baan te gee.”

Karla Pretorius het Msomi as ʼn legende op die baan beskryf – ʼn fantastiese persoon en leier.

“Baie geluk met ʼn wonderlike loopbaan,” het die Protea-ster op sosiale media gedeel.

Msomi het die Proteas in 171 toetse verteenwoordig. (Foto: TeamSA)

Maweni bêre ook haar netbalskoene weg

Phumza Maweni, ʼn speler wat ʼn gedugte verdedigerkombinasie met Pretorius gevorm het, het ook vandeesweek haar uittrede aangekondig.

Maweni (39) het eers haar professionele buiging op 28-jarige ouderdom gemaak, maar sy het ongetwyfeld haar stempel op die baan afgedruk – in Suid-Afrika én oorsee.

Sy het vir Loughborough Lightning, Severn Stars en Bath in die Verenigde Koninkryk gespeel, terwyl sy ook saam met Pretorius vir die gedugte Sunshine Coast Lightning-span in Australië op die baan gestap het.

“Die afgelope paar jaar het my wildste drome oortref. Netbal het ʼn ongelooflike invloed op my lewe gehad en ek sal elke oomblik van hierdie reis koester,” het Maweni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.