Karatsev se kraghoue knak vir Harris

Lloyd Harris. Foto: Twitter.

Soms kom jy teen iemand te staan wat net pleinweg beter is as jy. Lloyd Harris het vandag só ’n ervaring in Dubai gehad toe Aslan Karatsev hom met 6-3 en 6-2 in die eindstryd ore aangesit het.

Die sterk Rus het net hopeloos te veel krag vir die Suid-Afrikaner gehad en hy het met talle wenhoue vorendag gekom.

Daarteenoor moes Harris op sy afslane staatmaak om die telbord aan die gang te hou, maar sodra die skermutseling meer as vier houe geduur het, het Karatsev na ’n hoër rat oorgeskakel om met ’n wenner vorendag te kom.

Daniil Medvedev het vroeër Karatsev as Rusland se geheime wapen beskryf, maar jy hoef nie James Bond in te stuur om sy geheime te ontrafel nie. Die Rus is nie baie fiks nie, maar hy is deksels sterk en hy weet hoe om daardie krag op ’n tennisbaan doeltreffend in te span.

Maar die 24-jarige Suid-Afrikaner het ’n uitstekende week agter die blad. Om met Dominic Thiem, Kei Nishikori en Denis Shapovalov in een week af te reken, is glad nie ’n slegte prestasie nie. Daarbenewens is hy die eerste kwalifiserende speler in die toernooi se geskiedenis om die eindstryd te haal.

Nou moet hy net daarop voortbou.

  • Wenners van die Dubai-ope:

Aslan Karatsev (2021), Novak Djokovic (2020), Roger Federer (2019), Roberto Bautista Agut (2018), Andy Murray (2017), Stan Wawrinka (2016), Roger Federer (2015), Roger Federer (2014), Novak Djokovic (2013), Roger Federer (2012), Novak Djokovic (2011), Roger Federer (2010).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.