Pas nadat hulle op die groot verhoog tydens die Vitality Wêreldbeker-netbaltoernooi hul staal gewys het, druk van Suid-Afrika se netbalspelers nou weer hul stempel in Australië se Suncorp Super Netball-toernooi af.
Die Sunshine Coast Lightning met Karla Pretorius en Phumza Maweni in hul geledere het die Queensland Firebirds – wat met die dienste van Erin Burger en Lenize Potgieter spog – met twee doele geklop.
Die telling was 66–64 in SCL se guns.
Pretorius-hulle speel nou Saterdag teen die ligavoorlopers, die New South Wales Swifts.
In hul vorige kragmeting het Pretorius ses keer die bal onderskep, maar sy besef dat die Swifts oor ’n paar gevaarlike spelers beskik. Veral hul doelskieters, Sam Wallace en Helen Housby, sal met valkoë dopgehou moet word.
“Sam en Helen is twee bitter gevaarlike spelers in die doelsirkel en as ’n kombinasie is hulle baie goed,” het Pretorius gesê.
Sy en Maweni het met Wallace (Trinidad en Tobago) en Housby (Engeland) in die afgelope Wêreldbeker-toernooi te doene gekry.