Karla mik na podiumplek saam met Proteas

Karla Pretorius is een van wêreldnetbal se grootste sterre. Hier maak sy litte los saam met die Sunshine Coast Lightning in Australië. (Foto: Verskaf)

Die mens wat Karla Pretorius se netbalgetuigskrif moet bywerk, is sekerlik voltyds aangestel; die sterspeler sorg immers vir gereelde hoogtepunte.

Elke onderskepping is eintlik ʼn YouTube-video op sy eie werd, terwyl haar vertoonkas by die huis seker al uit sy nate moet bars van al die speler van die wedstryd-aandenkings vir klub en land.

Nou is die beste speler van die vorige Wêreldbeker-toernooi in Engeland gereed vir aksie en sy is oorgehaal om binnekort die aanvalsplanne van die wêreld se voorste netbalspanne in Suid-Afrika te fnuik.

“ʼn Mens kan dit eintlik nie glo nie – ʼn paar jaar gelede het die toernooi nog so ver gevoel en nou is dit hier! Ek dink die ding waarna ek die meeste uitsien, is om voor my tuisskare, familie en vriende te speel. Dit beloof om ʼn besonderse toernooi te wees,” het Pretorius aan Maroela Media gesê.

Vier jaar gelede het sy die netbalbane van Liverpool aan die brand gespeel en haar flinke verdedigingswerk het verseker dat sy met die toptoekenning vir individuele spelers beloon is.

Maar vir Pretorius gaan dit oor soveel meer as net individuele briljantheid. Die toekenning was bloot die kersie op die koek van ʼn goeie Suid-Afrikaanse spanpoging; ʼn klinkklare bewys dat die Proteas met die bestes ter wêreld op die grootste verhoog kan saamgesels.

Is daar dan nie steeds ʼn bietjie bykomende druk op haar nie – veral as die media en ondersteuners weer ʼn soortgelyke vertoning verwag?

“Sulke toekennings is natuurlik ʼn lekker bonus, maar ek gaan die komende Wêreldbeker net soos enige ander wedstryd benader: Deur hard te werk, behoorlik voor te berei en my beste vir die span te gee.”

Saam met klein Kara op die baan. (Foto: Verskaf)

Die 33-jarige verdediger het in 2022 ʼn ma geword en hoewel ouerskap ʼn groot invloed op ʼn sportvrou se loopbaan kan hê, klink dit of klein Kara eintlik vir meer motivering sorg.

“Ek wou nie gehad het dat ma-wees of die feit dat ons met ʼn gesin begin die einde van my loopbaan beteken nie. Dit het weliswaar harde werk geverg om weer terug op die baan te kom, maar dit was ʼn uitdaging waarna ek uitgesien het.”

Sy vertel dat haar skouer-aan-die-wiel-sit-vaardighede, ʼn goeie ondersteuningsbasis en ʼn onwrikbare geloof in haar eie vermoëns die sleutel tot haar suksesvolle terugkeer was.

Balans is ook ʼn vereiste – jy moet as’t ware weet wanneer om jou atleethoed op te sit en wanneer om jou mammahoed nader te trek.

“Ek wil mededingend bly en die bes moontlike speler wees; nie net vir die onderskeie spanne nie maar ook vir myself. Ek het steeds doelwitte om myself tot hoër hoogtes aan te spoor en as speler te verbeter. Ma-wees het inderdaad ʼn invloed op jou benadering en beplanning, maar nie die uiteindelike doelwitte nie.

“Wanneer ek moet oefen, dan oefen ek hard, maar daarna is my fokus op Kara.”

Hoewel sy nie 100% seker is of sy oor vier jaar weer deel van die Proteas se Wêreldbeker-planne sal wees nie, is die Kaapstad-skouspel beslis nie haar swanesang nie.

“Ek geniet nog die spel en ek sal graag wil aanhou speel. Ek is nou opgewonde oor die Proteas se kanse. Ons het ʼn goeie balans tussen ervaring en jong talent; daar is spelers wat al vantevore by ʼn Wêreldbeker-toernooi in aksie was en hulle weet wat dit verg om na die uitspeelwedstryde deur te dring. Ek glo ons staan ʼn kans om op die podium te eindig.”

En met Karla Pretorius in hul geledere het die Proteas ʼn definitiewe Wêreldbeker-hupstoot.

Sy onderskep immers meer balle as ʼn o.13-Cravenweeksenter teen sy buurskool se D-rugbyspan en stel bitter selde – of indien ooit – teleur.

  • Die Wêreldbeker-netbaltoernooi begin amptelik op 28 Julie in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.